GWK se aandeelhouers het ten gunste van die voorgestelde amalgamasie met VKB gestem.
Dié besluit is tydens ‘n spesiale aandeelhouersvergadering geneem wat Donderdag (11/08) in Douglas plaasgevind het.
VKB se direksie het reeds voorheen binne hul mandaat die transaksie goedgekeur onderhewig aan instemming deur GWK se aandeelhouers, lui die gesamentlike verklaring.
Nicolaas Kruger, voorsitter van die GWK Groep se direksie, sê ná ‘n baie konstruktiewe en deeglike onderhandelingsproses tussen GWK en VKB, het GWK se direksie eenparig besluit om die transaksie te ondersteun en vir goedkeuring aan die maatskappy se aandeelhouers voor te lê.
Volgens Coenraad Fick, voorsitter van die VKB Groep se direksie, is VKB oortuig dat die voorgenome transaksie waarde vir albei ondernemings en hul aandeelhouers inhou.
Die goedkeuring deur GWK se aandeelhouers volg ná gesprekke tussen die twee maatskappye wat reeds in Julie 2020 begin het. Die voorgestelde transaksie sluit opsommend die volgende sleutelbeginsels in:
- ‘n Kontantbedrag en ‘n finansiële instrument wat deur VKB uitgereik word aan GWK-aandeelhouers om op ‘n regverdige grondslag volgens kapitaalwaarde saam met aandeelhouers van VKB belange en stemreg in die gesamentlike onderneming te hê;
- Verteenwoordiging van albei maatskappye se historiese aandeelhouers op die direksie van die gesamentlike onderneming;
- Behoud van albei handelsmerke, sowel as voortgesette besigheid onder hierdie handelsmerke; en
- ‘n Integrasiekomitee met gelyke verteenwoordiging uit die twee groepe sal ingevolge die transaksie die mandaat hê om die integrasie van die ondernemings se bedrywighede te beplan en te monitor.
Die samestelling en ontwerp van die transaksie is gedryf deur afgevaardigdes van GWK en VKB, in samewerking met ‘n eksterne, onafhanklike korporatiewe adviseur, Pallidus, om ‘n ooreenkoms saam te stel wat verseker dat albei partye beskerm en bevoordeel word.
Llewellyn Brooks, GWK Groep se besturende direkteur, sê hy is opgewonde oor die geleenthede wat hierdie transaksie vir al die belanghebbendes gaan ontsluit en sien uit daarna om die landboumaatskappy van die toekoms te help skep.
Volgens Koos Janse van Rensburg, die VKB Groep se huidige besturende direkteur, sê GWK én VKB se produsente sal by die transaksie baat.
Dr. PG Strauss, wat Janse van Rensburg van 1 Oktober as besturende direkteur van die VKB Groep opvolg, sê GWK en VKB het ‘n belangrike bydrae om te maak in die Suid-Afrikaanse landboubedryf.
“Samewerking verbeter die volhoubaarheid van albei ondernemings, en verseker dat albei ondernemings ook in die toekoms produsente sal kan ondersteun om vooruit te gaan en volhoubaar te wees.
“Dít met die doel om voedselsekuriteit en ekonomiese groei van Suid-Afrika te ondersteun.”
Die voorgestelde transaksie tussen GWK en VKB sal eersdaags voor die mededingingsowerhede dien en is, onder meer, onderhewig aan hierdie goedkeuring voor die integrasieproses ’n aanvang kan neem.
Die gesprekke tussen die twee maatskappye was, en word steeds, onderhewig aan voldoening aan mededingingswetgewing en ander regulatoriese goedkeurings hanteer.


