GWK se aandeelhouers het ten gunste van ’n voorgestelde amalgamasie met VKB gestem.
Dié besluit is tydens ’n spesiale aandeelhouersvergadering geneem wat Donderdag (11/08) in Douglas plaasgevind het. VKB se direksie het reeds voorheen binne hul mandaat die transaksie goedgekeur onderhewig aan instemming deur GWK se aandeelhouers, lui die verklaring.
Nicolaas Kruger, direksievoorsitter van die GWK Groep, sê ná ’n baie konstruktiewe onderhandelingsproses tussen GWK en VKB, het GWK se direksie eenparig besluit om die transaksie te ondersteun en vir goedkeuring aan sy aandeelhouers voor te lê.
Volgens Coenraad Fick, voorsitter van die VKB Groep se direksie, is VKB oortuig dat die voorgenome transaksie waarde vir albei ondernemings en hul aandeelhouers inhou.
Die goedkeuring deur GWK-aandeelhouers volg ná gesprekke tussen GWK en VKB wat reeds in Julie 2020 begin het. Die voorgestelde transaksie tussen GWK en VKB sal eersdaags voor die mededingingsowerhede dien en is onder meer onderhewig aan dié goedkeuring voor die integrasieproses kan begin. Die gesprekke tussen GWK en VKB was, en word steeds, onderhewig aan voldoening aan mededingingswetgewing en ander regulatoriese goedkeurings hanteer.

