Fietsryers het die geleentheid om die langste ononderbroke stuk grondpad in die land te beleef, terwyl die speke sing.
Dié geleentheid, die News24 Karoo Burn-fietsry-uitdaging, strek deur dele van die Tankwa-Karoo en die Koue Bokkeveld, met ’n algehele hoogtestyging van 1 950 m.
Dit begin op Saterdag 25 Februarie by die Laerskool Calvinia en ná 242 km kom deelnemers by die Kaleo-gasteplaas in die Ceres-vallei aan.
Nadat deelnemers ’n effense opdraande vanuit Calvinia trotseer, strek die roete oor die golwende grondpad en daal dit geleidelik tot by die 110 km-merk. Vanaf waterpunt nommer drie begin die roete egter geleidelik styg. Die Katbakkiespas word as die moeilikste deel beskryf, gevolg deur ’n welkome afdraande rondom die 190 km-merk.
Skerp klippe op die middelmannetjie, waarteen fietsbande nie bestand is nie, sinkplaatpad-gedeeltes en sagte sand wat die voorwiel kan vasgryp, is enkele van die uitdagings op die roete – benewens son, stof en hitte.
Ses waterpunte sal op die roete beskikbaar wees – almal by toeriste-aantreklikhede soos Die Mond en die Tankwa-padstal geleë.
Deelnemers kan as individue of in spanverband inskryf.
Inskrywing is nog net tot Vrydag (10/02) oop. Besoek karooburn.co.za vir meer inligting.


