’n Groep plaaslike vroue en veteraan-politici het hul kragte en kundigheid saamgesnoer en ’n organisasie gevorm ten bate van vroue in Tstantsabane.
Patricia Peacock, voorsitter van die Tsantsabane-gemeenskapsentrum vir vroue (TWCC), sê dié organisasie sonder winsbejag (OSW), is bewus van die uitdagings van veral vroue in die Tstantsbane-distrik.
“Ons wil uitreik na die gemeenskap om vroue te bemagtig asook ander sukkelende OSW’s ondersteun om hul eie mandaat te laat realiseer,” sê Peacock, ’n lid van die provinsiale wetgewer.
Katriena Kasper, ondervoorsitter van die TWCC en voormalige burgemeester van Tstantsabane, bevestig die groot gaping by veral vroue as dit kom by bemagtiging op alle vlakke. “Baie moet nog gedoen word om vroue se regmatige rol in ons gemeenskappe te erken en te ontwikkel. Ons meisiekinders kan nie almal ná skool by vulstasies gaan werk of kassiere word nie,” sê Kasper.
Helena English, sekretaresse van die TWCC en gemeenskapsaktivis, sê dit is nou tyd dat hulle as veterane jonger vrouens toerus sodat hulle ook weer later kan terugploeg in hul gemeenskap. ’n Amptelike bekendstelling word vir later die jaar beplan.