Smokkelplante
Van die plante wat gestoor word en uiteindelik tot niet gaan. FOTO: Verskaf

Plantstropers en -smokkelaars word op ‘n gereelde grondslag in die Noord-Kaap met plante ter waarde van duisende en soms miljoene rande in hul besit vasgetrek. ‘n Kritieke tekort aan mannekrag en onderbefondsing by die Groen Skerpioene in die provinsie lei egter daartoe dat die ontvangs en hantering van sulke sake, sowel as die hantering van biologiese bewysstukke nie doeltreffend is nie.

Tydens ‘n oorsigbesoek op Dinsdag 19 Augustus aan die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake en grondhervorming, is talle probleme aan verteenwoordigers van die VF Plus uitgewys.

In ‘n verklaring sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus LP en hoofwoordvoerder van bosbou, vissery en omgewing, dat hulle met die oorsigbesoek wou vasstel wat van plante word wat smokkelaars uit Namakwaland verwyder het en wat ná polisieoptrede by die Groen Skerpioene beland het.

Die hoof van korporatiewe dienste, Thabang Sebono, asook die hoof van voldoening en wetstoepassing, O.T. Gaoraelwe, het die departement se beperkings aan die besoekers uitgewys.

Volgens hulle is onderbefondsing die rede dat talle poste waarvoor voorsiening gemaak is, vakant is. Daar is net een ondersoeker wat die uitgestrekte provinsie moet dek wat behoorlike wetstoepassing onmoontlik maak. Koördinering tussen provinsiale en nasionale departemente is ook ‘n probleem.

Boonop is dit vir die publiek moeilik om omgewingsoortredings aan te meld, aangesien verskeie departemente agentskappe het wat verskillende soorte oortredings ondersoek. Aanmeldingspunte is ook nie opsigtelik of maklik om te bereik nie.

Smokkelplante vanuit onder meer Namakwaland is ‘n groot probleem. Dié plante is in Asiatiese lande gesog en enkele kartonbokse vol plantjies kan tot ‘n miljoen rand vir smokkelaars werd wees.

Selfs wanneer daar op die plante beslag gelê word, skep die hervestiging probleme want dit kan om twee redes nie herplant word nie. Eerstens beskik die departement nie oor geskikte kwekerygeriewe nie; en die polisie en howe dring daarop aan dat die plantmateriaal as bewysstukke beskikbaar moet wees totdat hofsake afgehandel is. Dit kan soms jare duur.

Met die besoek van die VF Plus is plastieksakke en ander houers met plante uitgewys wat vir ondersoekdoeleindes gehou word en wat reeds verrot het.

Hierdie plante is ook van die wat gestoor word, en sal uiteindelik tot niet gaan. Foto: Verskaf

Die VF Plus se afvaardiging, bestaande uit Boshoff; Theo Joubert, LPW; Kobus van den Berg, LP; en Wilhelm Reichert, provinsiale bestuurder van die VF Plus wat talle omgewingsklagtes hanteer, beskou dit in ‘n ernstige lig en versoek beter koördinering tussen wetstoepassingsagentskappe.

Smokkel van plante goed deur sindikate georganiseer

In Julie verlede jaar is vyf verdagtes naby Nieuwoudtsville in hegtenis geneem – hulle was besig om plante te stroop en het reeds beskermde plante ter waarde van R2,7 miljoen in hul besit gehad. Volgens die polisie het hulle ongeveer 424 beskermde Clivia mirabilis plante gestroop.

Volgens ‘n artikel op die webwerf van die Wêreldnatuurfonds (WWF) word ‘n beduidende aantal beskermde plant op bevel van middelmanne gestroop. Dié middelmanne is binne die sindikate wat onwettig hiermee handel dryf. Luidens die artikel is die onwettige handel goed georganiseerd en plaaslike gemeenskapslede word geteiken om die plante op te grawe. Dit is ook dan meestal dié persone wat in hegtenis geneem word terwyl die werklike misdadigers hulself versigtig buite bereik van die arm van die gereg hou.

Sakke gevul met die Clivia mirabilis plante wat verlede jaar gestroop is. Foto: wwf.org.za

Aan die einde van verlede jaar is die Richtersveld woestyn- botaniese tuin, met kwekery, in die Richtersveld-oorgrenspark amptelik geopen.

Genevieve Maasdorp, kommunikasiebeampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke) in die Noord-Kaap, het tydens die opening gesê die kwekery by die Sendelingsdrif-ruskamp verkoop die plantspesies wat gereeld gestroop en mee gesmokkel word. Die beskikbaarheid van die plantspesies op die mark sal die stroop van die plante verminder, en hopelik selfs tot ’n einde bring. 

’n Kweekhuis is hier met befondsing van die WWF opgerig, en is ’n bewaarplek vir die hoogsbedreigde plantspesies van die omgewing. Volgens die WWF sal die kweekhuis as ’n genebank vir die plantspesies dien wat deur stroping, klimaatsverandering, mynbou en oorbeweiding bedreig word. 

Opgeleide personeel sien na die plante om en van dit sal per geleentheid na ander botaniese tuine vir langtermynbewaring versend word. Intussen is honderde bedreigde plantspesies reeds in die kweekhuis gevestig. 

 

You need to be Logged In to leave a comment.