Die span van Mainstay in blou.
Die span met reserwes van die Mainstay-voetbalklub van Sesbrugge wat op Maandagaand 21 April teen Destiny van Groblershoop in die eindstryd van die Cornald Mouers-sokkertoernooi kragte gemeet het. Foto: Nick Pretorius

Die Destiny United Football Club van Groblershoop het onlangs in gietende reën die jaarlikse Cornald Mouers-sokkertoernooi gewen. Hul sege was op die Dicky Jacobs-stadion in Upington voor ‘n groot skare waar hulle met 1 – 0 teen Mainstay United van Sesbrugge gewen het.

Dit was ongetwyfeld die wedstryd van die toernooi, en is op Maandagaand 21 April beslis. Die toernooi het veral op die Saterdag en Sondag van die onlangse Paasnaweek ‘n skare van ongeveer 5 000 per dag getrek.

In die uitspeelrondtes het Destiny die 2024-kampioene, Northern Cape Pro’s van Kathu, onttroon om sodoende na die eindstryd deur te dring.

In die eerste halfeindstryd op Maandag het Mainstay die 11-tal van Black Cats van Upington met 1 – 0 getroef. Die wenspan se doel is deur die doelskieter, Willie Stefanus, aangeteken.

In die tweede halfeindstryd het Destiny vir Kakamas Sundowns in ‘n saai kragmeting met 2 – 0 ore aangesit.

In ‘n taai en opwindende eindstryd wat deurgaans in gietende reën gespeel is, het Destiny met 1 – 0 geseëvier. Hulle moes egter in die tweede helfte verwoed walgooi teen verwoede aanvalle naby hul doelhok.

Die doelskieter Pele Sandaxele het Destiny se doel in die 15de minuut van die eerste helfte aangeteken. Mainstay se Jantjies Vries en Warren Pofadder was van die groot uitblinkers in hul span.

“Ek dink Mainstay kan sy kop hoog hou teen ‘n goeie span soos Destiny. Ek voel baie trots op my jong laaities wat karakter getoon het, veral in die tweede helfte toe die reën begin uitsak het. Destiny verdien om te wen,” het die spanbestuurder van Mainstay ná die wedstryd gesê.

Toernooi vernoem na boorling van Louisevale

Hierdie toernooi word gewoonlik oor die vier dae gedurende die Paasnaweek beslis.

Dit is na die 27-jarige Cornald Mouers, ‘n boorling van Louisevale buite Upington, genoem.

Mouers was ‘n onderwyser aan die Hoërskool S.C. Kearns waar hy die Classics-sokkerklub gehad het. Hy is in Junie 1996 in ‘n motorongeluk tussen Wegdraai en Groblershoop oorlede. Sy dood het as ‘n baie groot skok in die gemeenskap van Louisvale gekom waar hy geliefd was, en veral gewild onder die jeug.

Sy moeder, Johanna Freeman, het tydens die afgelope toernooi as gasvrou opgetree.

Die nuwe kampioenspan, Destiny United Football Club van Groblershoop, is Maandagaand 21 April, in die Dicky Jacobs-stadion in Upington gekroon nadat hulle met 1-0 teen Mainstay van Sesbrugge gewen het. Dié taai en spannende eindstryd om die Cornald Mouers-trofee is in die tweede helfte in gietende reën gespeel. Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.