Die Griekwas is die enigste span wat die ligafase van die SA Beker-reeks onoorwonne afgesluit het. Hulle het die Cheetahs op Vrydagaand 17 Mei in Bloemfontein met 39 – 17 geklop, en daarmee ’n eindstryd op hul tuisveld in Kimberley teen die Pumas bespreek.
Die Pumas se enigste nederlaag was toe hulle met 26 – 31 teen die Noord-Kapenaars vasgeval het.
In Vrydag se wedstryd het die Griekwas in die eerste helfte talle aanvalsgeleenthede verspeel, maar die wedstryd vroeg in die tweede helfte buite bereik van die Cheetahs gehad.
Die Poubloues het in die tweede helfte met groter tempo en bestendigheid gespeel en mooi hul ritme gevind. Hulle het vroeg toegeslaan om die voorsprong gou na 32 – 10 te rek. Die Cheetahs moes toe vir ’n vale keer en het by tye bra onbeholpe voorgekom.
George Whitehead was Griekwas se groot planmaker en het ook ’n blitsige skepdoel deur die pale gejaag. In die eindstryd sal die Pumas vir Whitehead, asook Cameron Hufke en die sterk linkervleuel, Sako Makata, moet hokslaan.
Griekwas se puntemakers was: drieë: Janco Uys, Cameron Hufke (2), Sako Makata, Stephan Smit; doelskoppe: George Whitehead (3), Lubabalo Dubela; strafdoele: Whitehead; en skepdoel: Whitehead.
- Die eindstryd van die SA Beker-reeks, ná ’n verwarring oor die dag waarop dit moet plaasvind, vind op Saterdag 25 Mei om 12:30 op die Suzuki-stadion in Kimberley plaas.
- Toegang tot die eindstryd is gratis vir leerlinge en studente. Volwassenes betaal R50 vir toegang.
– Johann de Jager; Marnus Kok


