Hoewel Pieter Bergh, afrigter van Griekwas, toegee dat die nat toestande in die wedstryd teen die Haaie in Durban ’n uitdaging vir sy span was, maak hy geen geheim daarvan dat hy nie tevrede met hul vertoning is nie.
Die Haaie het op Woensdagaand 19 Januarie die twee spanne se kragmeting in die Curriebeker-rugbyreeks met 24 – 23 gewen.
Dat daar hanteerfoute sou wees, was te wagte, maar die 14 strafskoppe wat die Poubloues afgestaan het, het verhinder dat die Noord-Kapenaars momentum kon kry.
Rynhardt Jonker was hier Griekwas se beste speler. Hy het op senter begin, maar is na heelagter geskuif toe Ashlon Davids die veld met ’n kniebesering verlaat het. Die 21-jarige Jonker het 14 keer die bal gedra en ’n paar keer die Haaie besig gehou wanneer hy op loop gegaan het. Jonker, seun van die skeidsregter Marius Jonker, word deur die Haaie aan Griekwas geleen.
- Griekwas se volgende wedstryd in die Curriebeker-reeks is Woensdag (02/02) teen die Pumas in Kimberley. Toeskouers mag die wedstryd bywoon, maar Covid-19-regulasies geld. Besoek die Facebook-blad G.W.R.U. vir die volledige inligting.