Die Griekwas hoop hul oorwinning oor die Pumas in die eindstryd van die Airlinkbeker-reeks sal hulle momentum gee vir aanstaande jaar se rugbyseisoen.
Só sê Pieter Bergh, afrigter van die Poubloues, nadat sy span die Laevelders op Saterdag 2 Desember met 31 – 29 by die Nelspruit-rugbyklub geklop het.
“Hoewel dit ’n klein reeks is met slegs vier spanne wat deelgeneem het, is dit steeds ’n beker wat ons graag wou wen en wat op die spel was.
“Vir ons as span is dit ’n belangrike sege. Dit is ’n beker wat ons gewen het. Ons kry nie baie geleenthede nie, ons is in min kompetisie in aksie,” sê Bergh.
“Ek is baie trots op die spelers – om dit weg, in Mbombela, en teen die Pumas te doen. Hopelik gee dit ons baie selfvertroue vorentoe.”
Die Griekwas het in die rondomtalie-wedstryde van die reeks met die Pumas (21 – 19), Griffons (33 – 9) en die Luiperds (52 – 23) afgereken.
Dit is die eerste trofee sedert 2019 wat in die trofeekas in Kimberley sal staan. Daardie jaar het die Poubloues, met Brent Janse van Rensburg as afrigter, die eertydse SuperSport-uitdaagreeks gewen.
Toe was die losskakel George Whitehead (34), wat Griekwas Saterdag in Mbombela aangevoer het, ook die kaptein. Hy het die naweek in sy 99ste wedstryd vir die Noord-Kapenaars gespeel.
Dit is Bergh se eerste titel as hoofafrigter op senior provinsiale vlak. Verlede jaar het die Griekwas met hom as breier in die Curriebeker-eindstryd teen die Pumas in Kimberley, verloor.
“Ek het ’n uitstekende afrigtingspan wat saam met my werk. Ons werk regtig goed saam. Daar is ’n uitstekende gees in die spanbestuur,” sê Bergh.
“Dit is altyd vir my belangrik dat ons as die spanbestuur lei deur ’n voorbeeld te stel – nie net met die gees onder ons nie, maar ook met ons werksetiek. Ek is trots op elke lid van die spanbestuur en ook op elke speler.”
Puntemakers: Griekwas 31 (7): Drieë: Sako Makata, Janco Uys (2), Gustav du Rand, Xavier Swartbooi. Doelskoppe: George Whitehead (3). Pumas 29 (14): Drieë: Etienne Taljaard (3), Llewellyn Classen. Doelskoppe: Clinton Swart (3). Strafdoel: Swart.


