Dylan Maart van die Griekwas op Saterdag 6 April tydens die Poubloues se wegholoorwinning oor die Grens se Bulldogs.

Foto: Griekwas/Louis Botha Fotografie

Die Griekwas het Saterdag 6 April die Grens Bulldogs in ’n kragmeting in die SA Beker-reeks met 119 – 5 verniel.

Die Poubloues het 17 drieë ingeryg op hul tuisveld, die Suzuki-stadion, in Kimberley.

Die wenspan se losskakel, George Whitehead, het al sy span se drieë verdoel en self ook drie drieë gedruk vir sy eie bydrae van 49 punte.

Die Noord-Kapenaars is steeds onoorwonne in dié reeks nadat hulle vroeër met die Luiperds (88 – 0) en die Valke (66 – 25) afgereken het.

Die Griekwas het die span van die Oos-Kaap in die skrums, met rolmaalbewegings en in elke liewe faset van die spel laat les opsê.

Hul volgende wedstryd is Saterdag 13 April weer in Kimberley teen die Griffons.

Die Griffons het dié naweek teen die Luiperds in Welkom ook onoorwonne gebly, toe hulle met 42 – 10 geseëvier het.

Puntemakers: Griekwas 119 (42):

Drieë – Jac van der Walt (2), Niel Otto, Dylan Maart (3), Athenkosi Khethani, Carl Els (3), Bingô Ivanisevic, Connor Mahoney, Sean Swart, George Whitehead (3), Sango Xamlashe; Doelskoppe – Whitehead (17).

You need to be Logged In to leave a comment.