Die Griekwas het die dienste bekom van Sean Swart, ’n haker wat vanjaar vir die Maties in die Varsitybeker-rugbyreeks uitgeblink het.
Swart is tot Junie 2024 by die Poubloues gekontrakteer. Hy sal met Simon Westraadt en Janco Uys om die Noord-Kapenaars se nr. 2-trui meeding. Nog ’n haker van die Griekwas, Gustav du Rand, is op die krukkelys. Swart (24) het vroeër vanjaar ’n driekuns aan drieë in sy span se sege van 58 – 19 oor die Ikeys in die halfeindronde behaal.
Griekwas speel Vrydag (30/09) teen Ierland se opkomende span in ’n kragmeting in die Toyota-uitdaagreeks in Bloemfontein.
Stephan Smit, ’n losvoorspeler van Tuks wat vanjaar ook vir die Bulle gespeel het, is ook deur die Griekwas gekontrakteer.
Smit was deel van die Pretorianers se span wat die Varsitybeker-reeks gewen het deur die Maties in die eindstryd te klop.
Francois Staples, ’n stut van die Durbanville-Bellville-klub, het hom vir ’n proeftydperk by die Griekwas aangesluit. Staples was ’n plaasvervanger vir sy klubspan in die eindstryd van die Westerlike Provinsie se Superliga teen Valsbaai in Stellenbosch.
Staples is vir ’n proeftydperk van twee maande by die Griekwas. Die stut Melusi Mthabela (Griffons) en die agterspeler Vaughen Isaacs (Leeus) is vir ’n leentydperk by die Poubloues. Hulle het albei verlede week in ’n oefenwedstryd vir die Griekwas teen die Griffons in Welkom gespeel.
Die Perses het die Griekwas met 24 – 14 geklop.

