George Whitehead, veelsydige agterspeler van Griekwas, sal op Donderdag 21 Maart in sy 100ste wedstryd vir die Noord-Kapenaars speel wanneer hulle om 15:00 by die Suzuki-stadion in Kimberley teen die Luiperds te staan kom.
Whitehead, wat Sondag sy 35ste verjaardag gevier het, is op losskakel by die Poubloues se span ingesluit vir dié kragmeting in die SA Beker-reeks. Dit is die eerste wedstryd in die nuwe reeks.
Dié boorling van Bloemfontein wat in Grey-kollege was, het in 2017 sy debuut vir die Poubloues gemaak. Hy het reeds in 2009 sy senior provinsiale buiging gemaak toe hy vir die Vrystaat diens gedoen het.
Whitehead, wat ook as heelagter ingespan kan word, het vir die Shimlas in die Varsitybeker-reeks gespeel.
Later het hy onder meer vir provinsiale spanne soos die Oostelike Provinsie en die Griffons uitgedraf, en in 2018 het hy in drie wedstryde vir die Stormers gespeel.
Pieter Bergh, afrigter van Griekwas, is vol lof vir die bydrae wat Whitehead sover vir hulle gelewer het.
“George doen alles wat van ’n beroepspeler verwag word om ’n lang en ’n goeie loopbaan te hê. Hy is ’n baie goeie voorbeeld vir enige jong speler wat na Griekwas kom en dalk nie presies verstaan wat dit behels om ’n beroepspeler te wees nie,” het Bergh op ’n aanlyn mediakonferensie gesê.
“Die lojaliteit wat hy oor die jare vir Griekwas gewys het, is ’n voorbeeld vir al die spelers hier. Hy is gedissiplineerd en professioneel, en hy werk ongelooflik hard.”
Die rekord vir die meeste wedstryde vir Griekwas pryk agter die naam van Steph Roberts, ’n stut in sy speeldae. Hy het die Noord-Kapenaars tussen 2007 en 2016 in 165 wedstryde verteenwoordig.
Griekwas: Cameron Hufke, Marcqiewn Titus, Sango Xamlashe, Tertius Kruger, Sako Makata, George Whitehead, Bobby Alexander, Marco de Witt, Stephan Smit (k), Thabo Ndimande, Albert Liebenberg, Athenkosi Khethani, Junior Banda, Janco Uys, Eddie Davids. Plaasvervangers: Sean Swart, Kudzwai Dube, Cebo Dlamini, Derik Pretorius, Jac van der Walt, Thomas Bursey, Lubabalo Dobela, Connor Mahoney.
– Marnus Kok


