Die Griekwas het spogreg dat hy die Curriebeker, die Sport Pienaar-beker, die Vodacombeker én die SA Beker gewen het, met die laaste drie boonop in die eerste jaar waarin dit op die spel was.
Die Poubloues het op Saterdag 25 Mei met ’n blitzkrieg van 29 punte binne 25 minute die grondslag gelê om die Pumas in die eindstryd van die SA Beker-reeks te troef. Hulle het met 46 – 24 op die Suzuki-stadion in Kimberley gewen en is die eerste wenner van dié reeks.
Die Griekwas moes hard werk vir die sege, maar het die wedstryd goed bestuur en onder druk koelkop gebly.
Hulle het opwindende hardlooprugby gespeel, en was baas in die skrums.
In die aanloop tot die eindstryd van dié reeks is daar in die Griekwas-kamp daaroor gepraat dat die spelers nie bang moet wees om kanse te waag nie, sê Pieter Bergh, afrigter.
“In die week het ons daaroor gepraat om die geleenthede wat ons kry, te benut. Ek dink ons het Saterdag al die geleenthede wat ons in die eerste 25 minute gekry het, benut.”
- Griekwas en die Pumas is binnekort weer in Kimberley slaags.
Volgens die voorlopige bepalings van die Curriebeker-reeks pak hulle mekaar op 5 Julie in die eerste ronde.


