Franco Schultz, die voormalige Griekwas-rugbyspeler en ’n “groot gees van rugby in Upington”, is Maandag, 8 Junie, oorlede.
Schultz (90) was voor sy dood Maandag die oudste lewende speler van dié Noord-Kaapse unie.
Hy was sy lewe lank ’n inwoner van Upington en het die Poubloues tussen 1952 en 1961 in 37 wedstryde verteenwoordig. Hy is in sy speeldae twee keer na die Springbok-proewe genooi.
In sy tuisdorp het hy ’n noue verbintenis gehad met die Upington-rugbyklub, waarvan hy 16 jaar lank ook die president was.
Dié klub se huidige president, Bone Boonzaaier, praat met lof van Schultz en sy liefde vir rugby.
“Hy was een van die regte groot geeste van die klub en was jare lank voorsitter, president en erepresident. Oom Franco was ’n natuurlike leier, iemand wat voorgevat het.
“Hy was ’n interessante mens, wat in moeilike jare grootgeword het toe rugby nie ’n beroepsport was nie,” sê Boonzaaier.
’n Oudlid van die Upington-rugbyklub, Godrey Kuun, sê as daar ’n titel soos “Mnr. Upington-rugbyklub” was, sou dit Schultz toekom. Volgens hom het Schultz 21 jaar lank vir die klub gespeel, waarvan hy 13 jaar die kaptein en ook 45 jaar ’n bestuurslid was.
Schultz was ook by die destydse Noordwes-Kaapland-rugbyunie in verskeie hoedanighede, waaronder afrigter en keurder, betrokke.
Schultz se vrou, Marietjie, sê haar man was ’n geliefde en joviale mens was, wat daarvan gehou het om te gesels.
“Hy was ’n goeie pa vir ons kinders en ’n goeie man vir my. Hy was streng, maar nie onregverdig nie en iemand wat baie op goeie tafelmaniere gesteld was.
“Vir iemand van sy ouderdom het hy ’n goeie lyf gehad, oefening was baie belangrik vir hom. In die somer het hy elke aand gaan swem,” sê Marietjie.