Griekwas lê nie

Die jong span van die Griekwas – met sy besielende kaptein en agtsteman, Ruan Steenkamp, aan die voorpunt – het nooit gaan lê in sy eerste Curriebeker-wedstryd vanjaar Saterdag (15/01) teen die Vrystaat-Cheetahs nie.


Die jong span van die Griekwas – met sy besielende kaptein en agtsteman, Ruan Steenkamp, aan die voorpunt – het nooit gaan lê in sy eerste Curriebeker-wedstryd vanjaar Saterdag (15/01) teen die Vrystaat-Cheetahs nie.

Cheetahs het die Poubloues met 30 – 20 geklop.

’n Gladde bal weens die oggend se reënbuie, asook sifreën gedurende die eerste helfte, het hantering bemoeilik.

Griekwas se puntemakers in die wedstryd was: Ruan Steenkamp en Luther Obi met drieë, Zander du Plessis met twee doelskoppe en du Plessis met twee strafdoele.

Die Griekwas se volgende Curriebeker-wedstryd is vir Woensdag (19/01) teen die Haaie in Durban gereël.

Pieter Bergh, afrigter van Griekwas, het ná Saterdag se kragmeting in die Rosestad gesê dit is belangrik dat sy span oplet na die foute wat hulle wil regstel en seker maak dat hul uitvoering Woensdag beter is.

Hoewel ondersteuners van die Noord-Kapenaars teleurgesteld kan wees in die nederlaag teen die Vrystaters, was Griekwas beslis nie verneder nie. Inteendeel, die Poubloues het karakter getoon.

“Ek is baie trots op hierdie spelers; 12 ouens het vandag hul debuut gemaak en van die ouens het nog nooit tevore op dié vlak gespeel nie – om dit dan te doen teen spelers soos Ruan Pienaar en Frans Steyn,” sê Bergh.

“Iemand soos Derik Pretorius (slot) het sy eerste wedstryd (vir Griekwas) gespeel; hy was briljant in die lynstane teen ervare slotte. Ons onervare voorry (Eddie Davids, Alandré van Rooyen en Janu Botha) het goed geskrum. Zander du Plessis op losskakel en Rynhardt Jonker op senter is jong ouens wat hul Curriebeker-debuut gemaak het.

“Ons sal nooit tevrede wees met ’n nederlaag nie, maar daar is beslis baie om op te bou.”

  • Griekwas-ondersteuners kan uitsien na die bywoning van ’n wedstryd op Tafel Lager-park in Kimberley op 2 Februarie om 15:30 wanneer die Poubloues teen die Pumas te staan kom. Behalwe ’n geldige toegangskaartjie, word ’n geldige inentingsertifikaat met ’n QR-kode onder meer vereis. ’n Masker moet gedra word. Slegs 2 000 toeskouers sal toegelaat word. Skakel 053-832-8773 vir inligting of besoek die Face­book-blad Griquas Rugby. – GWRU

You need to be Logged In to leave a comment.