Selfs ’n duidelik teleurgestelde Pieter Bergh, afrigter van die Poubloues, het lof vir die Springbok Frans Steyn gehad vir sy aandeel daarin dat die Vrystaat Cheetahs Vrydag (10/03) sy span geklop het.
“Ek dink hy (Steyn) het ’n briljante wedstryd gehad in sy terugkeer ná ’n besering,” sê Bergh.
Die Cheetahs het vyf drieë gedruk om Griekwas Vrydag met 42 – 19 in Kimberley te klop tydens ’n eerste wedstryd in vanjaar se Curriebeker-reeks.
“Ons het gedink ons kan hulle vaspen in hul helfte met die wind in ons seile in die eerste helfte. Maar die manier waarop hy en Ruan (Pienaar, skrumskakel) kantlyn toe geskop het – teen die wind – dink ek was uitsonderlik.”
Bergh gee toe sy span is by die afbreekpunte ore aangesit.
“Ek dink hulle was meer fisiek as ons en hulle het ons ’n bietjie geboelie by die afbreekpunte,” sê hy.
Dit was Steyn (35), wat al in 78 toetse vir Suid-Afrika gespeel het, se eerste wedstryd nadat hy vroeg in Desember ’n dyspierbesering opgedoen het.
“Ek dink sy (Steyn) skoppe teen die wind in is iets wat die gang van die wedstryd geswaai het,” het Hawies Fourie, afrigter van die Vrystaat Cheetahs, ná die wedstryd gesê.
“Hy het ongelooflike afstand met sy skoppe gekry. Veral met daardie laaste skop voor rustyd, wat hy naby aan hul doellyn uitgeskop en wat ons toe in staat gestel het om ’n drie te gaan druk. Dit was goud werd.
“Om 15 – 0 teen Griekwas voor te wees, was nie genoeg nie, maar 22 – 0 (rustyd) het baie druk op hulle geplaas in die tweede helfte.”
Dit was egter nie net met sy skopvoet dat Steyn, wat op binnesenter diens gedoen het, ’n indruk gemaak het nie. Volgens statistieke op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se webblad het hy ook tien keer die bal gedra en vyf duikslae uitgevoer.
Fourie sê die plan wat die Cheetahs gehad het om die Poubloues te klop, het goed gewerk.
“Ons het ’n plan gehad hoe ons teen Griekwas wou speel, deur druk op hulle te plaas, en dit het regtig goed vir ons gewerk.
“Ons het onsself wel ’n bietjie in die voet geskiet met die baie geel kaarte en die strafskoppe wat ons afgestaan het. Krediet aan ons spelers; ons het Griekwas fisiek oorheers in die kontaksituasies – op die aanval en die verdediging – dit was deel van ons plan.”
Die Cheetahs het 19 strafskoppe in die wedstryd afgestaan, teenoor die 16 van Griekwas.
Griekwas en die Haaie kom Sondag (19/03) in Kimberley teen mekaar te staan.


