Hoewel rugby op die platteland Monte Engelbrecht, die nuwe president van die Griekwaland-Wesse Rugbyunie (GWRU), na aan die hart lê, is dit nie ’n opsie dat dié unie na ’n ander dorp in die Noord-Kaap verhuis nie.
Só het Engelbrecht gesê nadat hy Saterdag (27/06) eenparig tot die amp verkies is. Hy neem die leisels by Jannie Louw, wat vroeër die maand tot die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie verkies is, oor. Engelbrecht (51) se termyn is tot November 2021. Vir dié boorling van Concordia in die Noord-Kaap is dit belangrik dat Griekwas die rol wat hy reeds vir meer as 100 jaar in Suid-Afrikaanse rugby speel, behou.
Engelbrecht, ’n rugbyadministrateur, het klubrugby in Namakwaland gespeel tot ’n kniebesering hom in 1996 gedwing het om sy stewels op te hang. Hy het spanne soos die provinsiale amateurspan van Noordwes-Kaap en Griekwas se sewesspan afgerig.