Pieter Bergh se kontrak as hoofafrigter van die Griekwas is verleng en hy sal minstens tot aan die einde van 2026 die Noord-Kapenaars brei.
Die verlenging is ’n mosie van vertroue deur die Griekwaland-Wes-rugbyunie in die werk wat Bergh (38) doen sedert hy op 1 Oktober 2021 as die Poubloues se hoofafrigter begin werk het. Hy is in 2021 vir ’n termyn van drie jaar aangestel.
“Uit ’n persoonlike oogpunt is dit lekker. Ons praat altyd daaroor dat ons kontinuïteit in ons spelersgroep wil hê, dat mens twee of drie jaar met dieselfde spelers wil werk,” het Bergh op Donderdag 11 Januarie gesê.
“Maar kontinuïteit in ’n afrigtingspan is net so belangrik. Franco van der Merwe (voorspeler-afrigter) se kontrak en myne is vir dieselfde tydperk van krag. Hy is aanvanklik op die korttermyn aangestel, maar syne gaan nou ook tot einde 2026 wees.”
Griekwas se grootste prestasie in Bergh se tyd as hoofafrigter was in 2022 toe hulle tot die Curriebeker-eindstryd deurgedring het. Dit was die eerste keer sedert Mannetjies Roux se Griekwas-span in 1970 dié reeks gewen het dat die Noord-Kapenaars in die eindstryd gespeel het.
“Ons het nou al geproe hoe dit is om in ’n Curriebeker-eindstryd te speel,” sê Bergh.
“Dit sal altyd die droom by Griekwas wees om weer die Curriebeker te wen. Vir my is dit ’n mikpunt.”
Net soos die Pumas, hoop Griekwas om in die afsienbare toekoms soos spanne soos die Haaie, Stormers en die Bulle ook in ’n internasionale reeks deel te neem.
Griekwas gaan aanstaande maand ’n weeklange toer na die Wes-Kaap onderneem waar hulle wedstryde teen die Westelike Provinsie en die Boland gaan speel. Dit gaan dien as voorbereiding vir die SA Beker-reeks wat na verwagting in Maart begin.
- Die res van die bestuurspan vir 2024 is Brendell Brandt en Wian du Preez (albei assistant-afrigters), Jacques du Toit (hoof hoëwerkverrigting), Desmond Pilane (spandokter), Mardé de Bruyn (fisioterapeut), Ansone Hugo (biokinetikis), Mervyn Bean (prestasie-analis) en Lance Salter (operasionale bestuurder).

