Die Griekwas-losvoorspeler Hanru Sirgel gaan sy rugby ná vanjaar se Curriebeker-reeks in Frankryk speel.

Pogings deur die Leeus om hom te kontrakteer was onsuksesvol.

Die 25-jarige Sirgel is nou ’n leenspeler vir die Leeus in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).

Hy het op 27 Januarie in Pretoria die Leeus se nr. 6-trui teen die Bulle gedra. Hy sal ná die VRK na Kimberley terugkeer om die Griekwas in die Curriebeker-reeks te verteenwoordig, voordat hy sy loopbaan in Frankryk gaan voortsit.

Dié losvoorspeler het aanvanklik sy stempel vir Tukkies in die Varsitybeker-reeks afgedruk voordat hy in 2021 sy buiging vir die Griekwas gemaak het.

Pieter Bergh, afrigter van die Griekwas, het reeds voorsiening vir Sirgel se vertrek gemaak deur Gustav Erlank te werf. Erlank het vir die Luiperds en die Pukke gespeel. Hy het reeds in Kimberley aangekom.

Bergh het ook die senter Bingo Ivanisevic se plek bevestig. Bingo sluit vanaf die Westelike Provinsie (WP) by die Griekwas aan, en het ook onder meer vir die Cardiff-universiteit in Wallis gespeel.

Netwerk24, verkort

You need to be Logged In to leave a comment.