Caroline Letsela-Klaaste (links, weduwee van Aggrey Klaaste), dr. Zamani Saul (premier) en Veda Doyle (hoofbibliotekaris), inspekteer die boekrakke van die Aggrey Klaaste-biblioteek in Greenpoint.

Foto’s: Charné Kemp

In wat aan ’n verkiesingsveldtog herinner, het dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, by die opening van ’n nuwe biblioteek in Greenpoint, Kimberley, nog huise aan die teenwoordiges belowe.

Meer as 1 000 mense het op Vrydag 12 April die opgeslaande tent volgesit waar Saul en die familie van wyle Aggrey Klaaste, bekende joernalis, redakteur van The Sowetan en vryheidsvegter na wie die aangrensende biblioteek genoem is, gepraat het. Klaaste is in Greenpoint gebore.

Die biblioteek, wat in 2019 voltooi is, het jare leeggestaan voordat dit in gebruik geneem is. Die rakke is gepak met van die boeke wat van ander biblioteke geleen is. Die aankoopproses van nog nuwe boeke is volgens die departement van sport, kuns en kultuur se woordvoerder aan die gang.

Nuwe rekenaars is ingerig, asook ’n kinderleeskamer.

Die biblioteek in Greenpoint, Kimberley, wat sedert sy voltooiing jare lank in onbruik gestaan het, is Vrydag amptelik geopen.

“Ons gaan baie huise vir julle net hier in Greenpoint bou, nie net in Roodepan nie,” het Saul belowe. “Ons het klaar met De Beers oor die beskikbaarstelling van grond gepraat.”

Hy het verwys na die behuisingsprojek van R1 miljard vir die Noord-Kaap wat onlangs deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is.

“Ons gaan terugkom om die huise te bou. Ons is nie bang vir die verkiesing nie. Dit is een ding waarvoor ons nie bang is nie. Die ANC gaan terugkeer as die regering, en nog infrastruktuur-projekte aanpak om mense se lewe ten goede te verander,” het hy gesê.

“Die ander partye praat baie en maak groot geraas, maar ons is op die grond en ons werk, is dit nie so nie?” het hy die gehoor meer as een keer gevra of hulle met hom saamstem.

“Ons het ook ’n nuwe skool aan die oorkant van die biblioteek vir julle teen R111 miljoen gebou. Die hele gebied sal bekendstaan as die Aggrey Klaaste-woongebied.”

Saul het ook beloof dat die biblioteek ’n WiFi-hotspot sal word.

“Julle moet die skool en die biblioteek oppas. Hy dra die naam van ’n groot man, hy sal teleurgesteld wees as ons dit nie beskerm nie. Julle moet trots wees om hier in Greenpoint te bly, die oudste lokasie in Kimberley.”

Volgens Saul is die stad se watertekort wat al meer as ’n week lank duur, te wyte aan ou infrastruktuur. Die Sol Plaatje-munisipaliteit, wat ’n regrukplan in werking gestel het, het vroeër erken die gebrek aan onderhoud het tot die waterkrisis bygedra.

Jerome Klaaste, uitvoerende direkteur van die Aggrey Klaaste Trust. Hy is die jongste seun van wyle Aggrey Klaaste.

‘Herbou afgebreekte strukture’

Jerome Klaaste, jongste seun van Aggrey Klaaste, die uitvoerende direkteur van die Aggrey Klaaste Trust, sê hulle sit sy pa se denkwyse voort om nasiebou te bevorder.

“Sy nalatenskap moet veral in Greenpoint gehuldig word. Die jonger geslag is nie bewus van sy bydrae tot die vryheidstryd nie. Hy was nie net ’n koerantredakteur nie. Sy lewensbeskouing moet deur mense toegepas word om hul eie lewe te verbeter. Die afgebreekte strukture in ons lewe moet herbou word. Die nuwe biblioteek, die kennis hierbinne, is die beginpunt.

“Ons moet sy lewenslesse gebruik om mense te bemagtig. Ons het byvoorbeeld ’n lesing by die nabygeleë hoërskool gegee oor hoe ons verandering kan meebring om mense te lewe te verbeter.”

You need to be Logged In to leave a comment.