Met die meeste rampe wat onverwags plaasvind, is die vraag: Tot watter mate is gemeenskappe voorbereid en in staat om rampe te hanteer?
Navorsing toon dat gemeenskappe wat strukture en aksieplanne ingestel het, beter vaar met die hantering van rampe. Met toenemende aardverwarming word die waarskynlikheid van rampe ‘n groter werklikheid, ook in die Noord-Kaap en Noordwes.
Uitmergelende droogtes, vloede, verwoestende veldbrande en springkaanplae is enkele voorbeelde hiervan.
Mense wat meen dat in hul gemeenskap geen organisasie of struktuur is nie, en wat ‘n verskil wil meebring, kan die Respond Netwerk-webinaar bywoon.
Dit word deur die taakspan Gemeenskapsversorging van die NG kerk in Noord-Kaapland, in samewerking met Caritas, aangebied. Die webinaar help deelnemers om beter voorbereid op rampe te wees en veerkragtig op te tree deur ondersteuningsnetwerke in te stel.
Gemeenskaps- en kerkleiers wat reeds by ramphulp en veiligheidsorganisasies of -strukture betrokke is, word ook genooi om dit by te woon.
Dit vind as ‘n tweedag-webinaar deur Zoom plaas, met Lester Sedras as aanbieder. Goeie internetverbinding word aanbeveel.
Met registrasie word ‘n Zoom-skakel ontvang, asook ‘n skakel na ‘n handleiding. Bywoning is gratis.
- Dit vind op 26 en 27 Mei van 09:00 tot 13:00 plaas. Dit word op 5 en 6 Augustus herhaal.
- Om hulle vir bywoning te registreer kan belangstellendes skryf aan ds. Kobus van Tonder by kobusvt04@gmail.com of Estie Botha by estie@caritas.org.za.