Die kritiek bedreigde De Winton-mol.

Foto: Trust vir Bedreigde Spesies (EWT)

Die De Winton-gouemol, wat lyk asof hy in sand “swem”, is ná ’n afwesigheid van 87 jaar weer in Suid-Afrika gesien – dit nadat baie kenners gemeen het hulle het reeds uitgesterf.

Esther Matthew, senior veldbeampte van die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT), sê spore van twee De Winton-gouemolle is op ’n strand by Port Nolloth aan die Noord-Kaapse kus gevind.

Dít nadat navorsers van die Universiteit van Pretoria saam met EWT-veldbeamptes sowat 18 km per dag afgelê het om in hul natuurlike habitat na die molle te soek. Die navorsers het ’n skaaphond, Jessie, ingespan om die molle se tonnels te soek.

Die kritiek bedreigde De Winton-mol.

Matthew beskryf die gouemolle as oulik, maar uiters menssku en moeilik om op te spoor.

Die molle kies ontoeganklike areas om hulself in te grawe en het uiters sensitiewe gehoor om grondvibrasies te bespeur. Daar is 21 verskillende spesies gouemolle.

Volgens Matthew is dié molle se spore laas in 1936 deur wetenskaplikes gesien.

Die De Winton-molle is opgespoor met DNS uit meer as 100 monsters duinesand naby die Port Nolloth-strand.

Wat die taak verder bemoeilik het, is dat die goue kleur van die molle dit kompleet laat lyk asof hulle deur sand “swem”. Die navorsers moes video’s en foto’s neem om die molle op te spoor.

De Winton-gouemolle is onder die top-25 diere op ’n lys van vermoedelik verlore spesies wat in 2017 deur Re:wild, ’n nieregeringsgroep, opgestel is.

Christina Biggs, ’n spesialis in verlore spesies by Re:wild, het die vasberadenheid en deursettingsvermoë van die navorsers geprys.

Biggs sê hul soeke het dit nou moontlik gemaak om die gebied te beskerm waar dié kritiek bedreigde­ spesie leef.

Die spore van vier ander gouemolle is in dieselfde omgewing gevind.

Matthew sê De Winton-molle is ’n kritiek bedreigde spesie hoofsaaklik weens die ontwikkeling van mynbou- en residensiële bedrywighede by strande wat dié molle se natuurlik tuiste is.

– Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.