Konsentrasie en ywerige meelewing was kenmerkend van die eerste Golden Oldies-kampioenskapsbyeenkoms wat verlede week in Kimberley plaasgevind het.
Tydens dié byeenkoms Vrydag (16/09) by die Acaciapark-aftree-oord het 15 spanne van verskeie aftree-oorde uit die omgewing in ses speletjies teen mekaar meegeding.
Benewens die “shocker”, waar ’n ring aan ’n metaalstaaf van een punt van ’n gebuigde draad na ’n ander punt beweeg moet word terwyl die ring en die draad so min as moontlik aan mekaar mag raak, is ballonne met veerpyltjies gegooi, metaalvissies met ’n magneet gevang, ’n rolbal-variasie gespeel, boontjiesakke gegooi en ping-pong gespeel. Dié speletjies verg onder meer fyn motoriese beweging, balans en hand-oog-koördinasie.
Emsie Malan, streekbestuurder van die Alzheimer-vereniging in die Noord-Kaap, sê dit word beoog om die byeenkoms voortaan jaarliks in September, tydens Wêreld Alzheimer-maand, aan te bied.
Malan sê behalwe dat die speletjies oefening bied, weerspieël dit ’n gesonde leefstyl en die bejaardes kry geleentheid vir sosiale interaksie.
Marianné Holloway, ’n deelnemer, sê dit is ’n heerlike byeenkoms en sy hoop dat sulke geleenthede meer gereeld aangebied kan word, en nie net in September nie.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het as gasspreker opgetree. In sy boodskap aan die bejaardes het hy op veral drie punte gefokus.
’n Mens moet leef eerder as oorleef, sê hy. Die bejaardes kom uit ’n geslag wat taai was, geleef het en alles oorleef het. Hulle moet dit aan die jonger geslag oordra.
Ook moet hulle steeds hul roeping leef, al is hulle bejaard.
“ ’n Mens se roeping hou nie op omdat ’n mens nie meer jonk is nie,” het hy opgemerk.
Die spanne buite Kimberley wat deelgeneem het, was dié van Huis Edith Smith van Christiana, Spes Bona van Douglas en Huis Heldersig van Griekwastad.
Uit Kimberley het spanne van Belgrave, Resthaven, Acacia, Ons Huis, Yonder, Galeshewe Association for the Care of the Aged (Gaasca), Minerva Gardens en Stillerweë deelgeneem.
Alzheimer se siekte is die mees algemene vorm van demensie.
Van die mees algemene vroeë simptome van demensie is geheueverlies; om dit moeilik te vind om bekende take te verrig, die regte woorde te vind en te verstaan wat ander mense sê; disoriëntasie met tyd of plek; toenemende swak oordeel; en om gedurig artikels te verlê.


