Vir die tweede jaar is ’n suksesvolle Golden Oldie-kampioenskap in Kimberley aangebied waaraan 18 spanne van aftreeoorde uit Kimberley, Christiana, Modderrivier en Douglas deelgeneem het.
Die spanne, met ses lede elk, het aan ’n verskeidenheid speletjies deelgeneem, wat onder meer doelskiet, skyfskiet, veerpyltjies gooi na ballonne op ’n draaiende wiel, asook die vang van metaalvissies met ’n magneet, ingesluit het.
Die oudste deelnemer vanjaar is 91 jaar oud.
Fyn motoriese beweging, balans en hand-oog-koördinasie word onder meer vereis.
Emsie Malan, streekbestuurder van die Association for Dementia and Alzheimer’s of South Africa (Adasa), voorheen Alzheimer’s South Africa, vertel dat ’n byeenkoms soos dié van veel waarde vir bejaardes is.
Benewens dat hulle aktief is, verkeer hulle sosiaal, dien dit as ’n kenmekaar-geleentheid tussen die verskillende aftreeoorde, en weerspieël dit ’n gesonde leefstyl.
Malan sê die vereniging is geseënd met verskeie borge wat bydra om die geleentheid ’n sukses te maak.
Die span van die Galeshewe Association for the Care of the Aged (Gaasca) is ná die byeenkoms as die kampioen aangewys, Acaciapark as die naaswenners, en Stillerweë het die derde plek ingepalm.


