Die ACVV Kuruman-tak vier Sondag (25/09) sy 70ste bestaansjaar.

Uit die notule van die vergadering van 13 Oktober 1952, die eerste ná die stigtingsvergadering op 25 September, is dit duidelik hoe die tak begin het.

’n Aanhaling uit die notule van daardie dag lees soos volg:

“Vergadering bespreek kongres en wenslikheid dat Kuruman-tak afgevaardigde stuur. Mev. Combrinck word afgevaardig. Mev. Combrinck lees brief voor van die sekretaresse van Hoofbestuur insake kombersskema, intekenaars op Eendrag en die aanneem van ’n dogter uit die Waveren-tehuis. Mev. Robinson stel voor dat die tak die dogter ‘aanneem’ deur af en toe geskenkies te stuur en in ander opsigte belangstelling in die dogter te toon.”

Dit was die heel eerste daad van barmhartigheid wat die ACVV Kuruman-tak aan ’n kind bewys het.

Die geskiedenis van die tak se besluite soos vervat in die notuleboeke, hoe onbeholpe en onvolledig dit gehou mag wees, toon die goue draad van getroue welsynsdienste en reddingswerk.

Die ACVV Kuruman het baie stadig gegroei. Op die stigtingsdag het slegs 22 lede aangesluit. Byna 18 jaar later op 12 Mei 1970, word in die notuleboek melding gemaak van die honderdste lid wat aangesluit het, ene mev. Stemmet. Aan die einde van die vergadering het nog sewe lede aangesluit.

Hierdie handjievol Afrikanervroue van Kuruman wat bereid was om vir die ACVV se doelstellings te werk, het van die begin af met oorleg en vernuf te werk gegaan. Hoewel die tak van die begin af basaars en straatverkope gehou het, het die vroue heel gou uitgevind dat hul sekerste inkomste verkry word deur as spyseniers vir bruilofsfeeste op te tree.

Hiermee het hulle gou só ’n goeie naam verwerf, dat selfs die groot mynmaatskappye en ander sakelui van Kuruman hulle op die ACVV verlaat het om verversings op hul onthale te verskaf.

Wat Kuruman op daardie tydstip die allernodigste gehad het, was ’n opgeleide maatskaplike werkster.

Hierdie beroepsgroep was destyds nog skaars en moes ’n sorgvuldige opname gemaak word van hoeveel kliënte in Kuruman was voordat aansoek gedoen kon word vir ’n salaris-subsidie van die departement van volkswelsyn.

Die eerste opgeleide maatskaplike werkster wat die ACVV Kuruman op sy eie verantwoordelikheid aangestel het, was mev. B.J. Groenewald, in 1964.

70 jaar later word steeds gepoog om by die Christelike waardes van die vereniging te hou.

Die werksgebied van die tak se maatskaplike dienste is Kuruman, Hotazel en Black Rock. Vanaf 1 Oktober het die tak weer ’n maatskaplike werker in diens.

Behalwe vir die maatskaplike werker, die hulpwerker en sekretaresse, vorm vrywilligers ’n belangrike deel van werksaamhede.

Die doelstelling is om ontwikkelingsgerigte maatskaplike dienste aan kwesbare mense te lewer. Die kantoor hanteer onder meer pleegsorg, aannemings, mishandelingsake van kinders, verwaarlosing, tienerswangerskappe, gesinsprobleme en gee gereeld kospakkies en klere uit. Soms is hierdie kospakkies al wat gesinne deur die maand dra.

Die ACVV fokus ook op ontwikkelingswerk, soos praatjies by skole en poppekasvertonings by voorskoolse sentrums sodat probleme vroegtydig identifiseer en aangespreek kan word. Met die naaldwerkprojek poog die ACVV om vroue die vaardighede te leer om naaldwerk vir ’n ekstra inkomste te doen.

Die tak salueer elke ACVV-lid, vrywilliger, werknemer en streekbestuurder wat in die 70 jaar diens gedoen het, en is dankbaar vir elkeen se positiewe bydrae om van die wêreld ’n beter plek te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.