By Milan Murray is van agter links Amelia van Rooyen, Elzette Buckle, ds. Arina Zandberg, Trulien de Bruin, Marlize Theron (almal organiseerders van die oggendtee) en Natasha Ingram (advertensieverteenwoordiger, NoordkaapBulletin).

Foto: Helena Barnard

Wees moedswillig genoeg om te weet wie jy is.

Hou op om te vra wat die mense sal sê. Maar hou ook op om dié mense te wees wat iets sal sê.

Dit was deel van die boodskap wat Milan Murray, Suid-Afrikaanse aktrise, sepiester, televisie-aanbieder, verhoogpersoonlikheid en kinderboekskrywer, Saterdag 16 September aan vroue tydens ’n oggendtee by die NG kerk Bakenskop in Kimberley gegee het.

By Milan Murray is van agter links Amelia van Rooyen, Elzette Buckle, ds. Arina Zandberg, Trulien de Bruin, Marlize Theron (almal organiseerders van die oggendtee) en Natasha Ingram (advertensieverteenwoordiger, NoordkaapBulletin).

Murray se praatjie, “Laat jou onderrok uithang”, is ’n motivering wat die gedagte aanspreek van “wat sal die mense sê.”

Sy vertel sy het self binne die koepel van oordeel grootgeword; dat jy nie uit die huis uit stap voor jy jouself gevra het: “Wat sal die mense sê?” (oor wat jy aangetrek het, hoe jy lyk, of waarheen jy op pad is nie).

Ná die geboorte van haar eerste kind het sy gou besef dat jong ma’s van die meeste oordeel kry. Reeds tydens jou swangerskap word jy bekyk en beoordeel, en kry jy raad wat jy nie eens gevra het nie.

“As jong ma het ek ook my lys van oordele en taboes gehad. My aanvanklike teorie oor dummies was die eerste een wat gewaai het,” vertel sy. Daar was ook tye wat sy in twee geskeur was deur haar eie reëlboek en die bewaking van haar eie geestesgesondheid.

Met moederskap, en met soveel ander sake in ’n mens se lewe wil jy voortdurend ander in ag neem; en is ander se mening vir jou belangrik.

Murray sê sulke optrede gaan oor behoort, of tuishoort, met die teenoorgestelde daarvan om maar net in te pas.

“Mag ons meer tuishoort, en minder inpas,” is haar wens.

Kleurvolle origami-voëltjies het skadu-afdak opgevrolik.

Gaste by die oggendtee het in ’n vars lentebriesie gesit, met honderde kleurvolle origami-voëltjies wat bo hulle gefladder het.

‘When I am an old woman I shall wear purple’

Onder ’n koepeltentafdak, met honderde gekleurde papiervoëls van origami – ’n Japanese papiervoukuns – het Murray onder meer die Afrikaanse vertaling van Jenny Joseph se mees bekende gedig, “Warning” voorgelees.

Dié gedig met die bekende inleiding, “When I am an old woman I shall wear purple”, vier die lewe van ’n bejaarde en vertel op ’n komiese manier van die vryheid wat ouderdom kan bring.

Ook het die Afrikaanse weergawe van ’n blog-inskrywing van Camille Rainville ’n beurt gekry. Rainville was ’n 22-jarige student aan die Universiteit van Vermont in Amerika toe sy dit in 2017 op haar blog publiseer het. Dit handel oor die teenstrydige vereistes wat daagliks aan vroue gestel word.

Talle stalletjiehouers het hul ware by die oggendtee van die NG kerk Bakenskop te koop aangebied.

Uittreksels hieruit is onder meer:

“Wees ’n dame, het hulle gesê. Jou rok is te kort. Jou bloes is te laag. Jou broek is te styf. Lyk sexy. Lyk onweerstaanbaar. Moenie so uitlokkend wees nie.

“Wees ’n dame, het hulle gesê. Moenie te vet wees nie. Moenie te maer wees nie. Eet meer. Eet minder. Genade, jy lyk soos ’n geraamte. Jy lyk siek.”

Murray sê dat sy haarself gereeld afvra of haar onderrok-praatjie steeds toepaslik is nadat sy dit meer as vyf jaar gelede die eerste maal gelewer het. Tog, sê sy, wanneer sy op sosialemediaplatforms ander se kommentaar lees, besef sy dat die tema ongetwyfeld steeds van toepassing is.

  • Murray is ook die stigter van The My Story Tribe, en het Vrydag 15 September by die Laerskool Newton in Kimberley met laerskoolleerlinge gesels oor wat dit beteken om eienaarskap van jou eie storie te neem. Sielkundiges, arbeidsterapeute en opvoeders is by The My Story Tribe betrokke en help kinders om in hul eie storie gegrond te wees. Om meer hiervan uit te vind, besoek themystorytribe.com.
  • Murray se optrede was deel van die NG kerk Bakenskop se jaarlikse oggendtee vir vroue wat ten bate van die gemeente aangebied word.
  • NoordkaapBulletin was die gedruktemediaborg

NoordkaapBulletin was die gedruktemediaborg van die oggendtee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article