Hoewel al die openbare skole in die Noord-Kaap verlede week vir die nuwe skooljaar geopen het, bly die plasing van gr. O-, gr. 1- en gr. 8-leerlinge wie se ouers of voogde nie tydig vir skooltoelating aansoek doen nie, ’n uitdaging vir die departement van onderwys.
Dié laat aansoeke veroorsaak vertraging in die plasing van die leerlinge.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement, sê aansienlike vordering is met die aanlyntoelatingstelsel gemaak en ouers word aangemoedig om dit te gebruik. Dié stelsel help dat leerlinge voor die aanvang van ’n skooljaar reeds by skole geplaas is.
Van die tienduisende aanlyn aansoeke wat vir bogenoemde graadgroepe ontvang is, is slegs 1 214 appélle ontvang waardeur ouers aangedui het dat hulle plasing by ’n ander skool verlang. Slegs 57 hiervan het op goeie gronde berus.
Van der Merwe sê ’n opname sal binne tien skooldae sedert 19 Januarie gemaak word om groot uitdagings by skole te bepaal.
Hy sê die departement is ontsteld oor die 39 voorvalle van vandalisme wat tydens die Desembervakansie by skole plaasgevind het.
“Ons versoek skoolgemeenskappe om saam met die polisie te werk om die oortreders vas te trek. Skole is bakens van hoop vir gemeenskappe,” sê Van der Merwe, en benadruk dit moet vir die toekoms van kinders beskerm en bewaar word.
- Met die inwerkingtreding van die Suid-Afrikaanse Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) op 1 Julie 2021, is talle skole onseker of hulle leerlinge se prestasies vir publikasie met die media mag deel. Ouers moet onder meer vorms by skole invul en onderteken waardeur toestemming gegee word dat ’n kind se naam, van, prestasies en foto byvoorbeeld op die skool se Facebook-blad mag verskyn. Dit impliseer toestemming tot die openbare domein, wat gedrukte koerante insluit.
- Skole in die 23 dorpe waarin NoordkaapBulletin versprei word, is dus steeds welkom om nuus aan die koerant te stuur. Die dorpe is: Barkly-Wes, Bloemhof, Boshof, Christiana, Danielskuil, De Aar, Douglas, Groblershoop, Hartswater, Hopetown, Jacobsdal, Jan Kempdorp, Kakamas, Kathu, Keimoes, Kimberley, Kuruman, Lime Acres, Olifantshoek, Petrusburg, Postmasburg, Upington en Warrenton.
- Stuur skolenuus na helena.barnard@media24.com.