“Moet grootmense ook maniere hê, of is maniere net vir kinders?”
Kleinsus se vraag hang ’n oomblik in die lug voordat ons almal gelyk antwoord dat grootmense natuurlik ook maniere moet hê.
Sy is ontsteld. Sy voel te na gekom.
Die tannie was ongeskik met haar en dit is vir haar sleg.
Daarom haar vraag.
Ek en sy begin ’n hele gesprek oor maniere.
Eintlik maar sy.
Ek luister hoe so ’n jong kind vir my leer hoe belangrik maniere is om te keer dat iemand sleg voel.
Sy som dit goed op.
Sê dankie vir alles wat ’n ander doen.
Sê asseblief as iemand vir jou iets moet doen.
Nee, jy val nie iemand in die rede nie – en as jy doen, vra jy om verskoning.
Moenie met ’n mond vol kos praat nie, en moenie praat as ’n ander praat nie.
Sy raas ook ’n bietjie met my: Moenie op jou foon kyk terwyl ’n ander met jou praat nie.
Reageer altyd vriendelik.
En so noem sy goeie maniere een vir een op.
Haar opsomming is eenvoudig. Kinders moet maniere hê, grootmense moet maniere hê.
Almal moet maniere hê.
As ons nie het nie, moet ons vinnig leer. As ons nie wil leer nie, gaan ons altyd ongeskik wees.
“As almal om jou goeie maniere het, voel almal sommer net spesiaal.”
Ek besef net weer hoe fyn ons moet oplet na ons respek vir mekaar, hoe baie ons almal het om te leer.
Goeie maniere is ’n goeie begin.