G’n sterfte ná inenting

Nie ’n enkele sterfte in Suid-Afrika as nagevolg van Covid-19-inenting kon tot dusver in navorsing gevind word nie.


Nie ’n enkele sterfte in Suid-Afrika as nagevolg van Covid-19-inenting kon tot dusver in navorsing gevind word nie.

Só het prof. Hannelie Meyer, hoof van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Inenting en Immunisering (Savic), verlede week in ’n inligtingsessie van die Suid-Afrikaanse reguleerder vir gesondheidsprodukte (Sahpra) gesê.

Sahpra het die inligtingsessie gehou om die verskil tussen newe-effekte en nadelige effekte van entstowwe teen Covid-19 te verduidelik. Op ’n vraag oor die uitwerking van die Johnson & Johnson- en Pfizer-entstof het Meyer gesê dit is baie veilig en geen sterftes is deur die entstof veroorsaak nie.

Daar is in Suid-Afrika ook navorsing gedoen oor mense wat ernstige nadelige effekte aangemeld het en slegs nege van dié gevalle is as ’n regstreekse nagevolg van ’n inenting bewys – en dit terwyl miljoene mense ingeënt is, sê Meyer.

Meyer het gesê daar is newe-effekte, maar dat daar ’n verskil is tussen newe-effekte en ernstige nagevolge. Dit is te wagte dat mense wat ingeënt is in een uit elke tien gevalle algemene ligte newe-effekte sal hê. Dit is ook deur die vervaardigers van die entstof gelys en is te wagte. Die ligte­ newe-effekte wat mense ná ’n inenting kry, soos lyfseer en koors, wys dat ’n mens se liggaam­ reageer op die entstof en gereed maak vir indien dit aan die virus self blootgestel word.

Gevalle van ernstige gevolge word nie verwag nie en kom voor in een uit elke 100 000 tot een uit elke 1 miljoen inentings.


Marelize Barnard

You need to be Logged In to leave a comment.