G’n keer aan yster

Suid-Afrikaanse sportgeesdriftiges laat hulle nie deur die beperkinge van die Covid-19-pandemie of ysige weerstoestande afskrik nie.


Suid-Afrikaanse sportgeesdriftiges laat hulle nie deur die beperkinge van die Covid-19-pandemie of ysige weerstoestande afskrik nie.

Twee vriende van Upington, Petri Hanekom (36) en Pieter Laubscher (35), het op 13 Junie te midde van ’n ysige -2 °C die gewilde jaarlikse Ysterman-uitdaging aangepak.

Hanekom het hom vanjaar ingeskryf om aan die half-ysterman in Durban deel te neem, maar die kompetisie is weens die pandemie tot 2021 uitgestel.

Hy sê hy het al 15 weke vir die kompetisie geoefen en het besluit om deur te druk en die uitdaging in sy tuisdorp in die Kalahari aan te pak.

Hy het twee van sy vriende gevra om saam met hom deel te neem.

Laubscher, wat eers net dele van die uitdaging sou aanpak, het later besluit om volstoom deel te neem.

“Ek het geweet ek sou ná die tyd spyt wees as ek nie die hele uitdaging aanpak nie,” sê hy.

Hul vriend Theo Botha het hulle ondersteun deur agter hulle aan te ry, waterpunte te beheer en na hul veiligheid om te sien. Die twee het darem ook ’n stewige span ondersteuners gehad, met hul gesinne wat hulle al die pad toegejuig het.

Hanekom sê hulle het met die swemnommer van die uitdaging begin. Daarvoor moes hulle 1 900 m swem. Vir veiligheid het hulle in die Hoërskool Duineveld in Upington se swembad geswem.

Laubscher sê die water van die swembad was vir hom verbasend warm.

“Buite die water was dit snerpend koud en ek kon eintlik nie glo hoe warm die water was nie. Ek is net bly daar het nie ’n wind gewaai nie, want dan sou ons probleme gehad het.”

Daarna het hulle ’n uitmergelende 90 km met hul fietse op die pad na Askham in die Kalahari aangepak en daarna nog 21,1 km gedraf.

Hanekom en Laubscher het die uitdaging binne 6:16 voltooi.

Hanekom se dogters, Anli (7) en Kari (2), kon nie wag om vir hul held ’n tuisgemaakte sertifikaat te gee nie. Daarop staan: “Pappa, jy is ons hero.”

Laubscher se spruite, Anke (5) en Kara (2), was net so in hul noppies met hul pa se prestasie en het vir hom by die eindstreep gewag.

Hanekom en Laubscher sê hulle sal weer die uitdaging aanpak.

Buite die water was dit snerpend koud en ek kon eintlik nie glo hoe warm die water was nie – Pieter Laubscher

You need to be Logged In to leave a comment.