Die man wat sewe jaar gelede as 18-jarige sy pa se meisie op ’n plaas buite Prieska doodgeskiet het, is in die hooggeregshof in Kimberley 12 jaar tronkstraf opgelê. Vier jaar daarvan is vir vyf jaar opgeskort.
Regter Lawrence Lever het op Donderdag 12 Oktober bevind dat hoewel daar versagtende omstandighede is, soos dat Cornelius (Corné) Vermeulen in onwenslike huislike omstandighede grootgeword het, het hy nie berou getoon toe hy Serifa Brown met ’n jaggeweer gejaag en doodgeskiet het nie.
Lever het ook vroeër in sy uitspraak bevind dat Vermeulen nie kort voor die voorval aan posttraumatiese stres gely het nie, en dié deskundige getuienis is verwerp.
Die voorval het op 21 Mei 2016 op die plaas Jonkerwater buite Prieska gebeur. Vermeulen se pa, Albertus, was nie tuis nie, wat Vermeulen en Brown alleen in die plaashuis gelaat het.
Vermeulen het vroeër getuig hy en drie werkers was daardie Saterdag bedrywig op die plaas voordat hulle teen sononder na hul huise teruggekeer het.
Toe hy in die woonstel kom, was Brown besig om TV te kyk. Sy was glo dronk.
Hulle het geargumenteer omdat hy honger was en sy nie kos gemaak het nie. Sy het geld na hom gegooi en ’n aanmerking oor sy ma gemaak. Hy het haar met sy arm van agter gewurg. Hulle het eers op die bed beland, en sy het daarna met haar kop hard op die grond geval. Hy het haar geskud en haar naam geroep.
Omdat hy gedink het sy is dood, het hy ’n sak gaan haal om oor haar kop te trek sodat die bloed nie die vloer bevlek nie.
Hy het ’n kombers gaan haal om haar in te begrawe, maar toe ’n geluid gehoor. Sy het regop gekom en voor hom uit gevlug.
Hy het die .22-geweer uit die bakkie gaan haal en skote op haar geskiet.
“Ek het geskiet en geskiet,” het hy getuig. Sy het geval, waarna hy na haar kop geskiet het. Toe hy by haar kom, het hy die loop teen haar kop gesit en weer geskiet. Hy het toe op die honde begin skiet. Een van die honde is teen die bakkie verbrysel.
Lever het in sy uitspraak gesê die erns van die dade en die belange van die gemeenskap moet in ag geneem word.
Die reg op lewe is die belangrikste reg in die Grondwet, en daarom beskou die gemeenskap die neem van ’n lewe in ’n ernstige lig. Die gemeenskap moet daarom sien dat geregtigheid geskied en dat die vonnis by die misdaad pas.
Vermeulen was gevul met woede toe hy die gruweldaad gepleeg het. Hy het geen berou of verantwoording getoon of verduidelik hoekom hy Brown gedood het nie.
Sy beweegrede dat Brown sy ma gevloek en geld na hom gegooi het, regverdig nie sy dade nie. Terwyl hy die ander honde geskiet het, het hy die hond Pepsi, wat toegeneë teenoor Brown was, verbrysel. Hy toon geen begrip vir die opgekropte woede in hom nie.
Die regter is bekommerd dat indien Vermeulen jare ná die voorval steeds nie sy toestand erken en vir behandeling gaan nie, kan hy in stresvolle situasies ontplof.
Ter versagting het hy ’n wanfunksionele “patologiese kinderlewe” gehad, soos ’n sielkundige in die hof getuig het, en ’n seksuele verhouding met Brown gehad.
Brown het hom eenkeer vertel dat sy sy kind verwag het en ’n miskraam gehad het. Dit het sy verwarde angstoestand vererger, want hy was nie emosioneel volwasse genoeg om dit te hanteer nie. “Dit is iets wat geen jong mens moet verduur nie.”
Advv. Rodney Makhaga en Quinton Hollander het aangekla. Adv. Ferdi van Heerden het vir Vermeulen in opdrag van Herman van Heerden Prokureurs verskyn.


