Een van die mans wat Piet Els (86), bekende sakeman, en sy vriendin in Januarie 2018 op Els se plaas buite Kimberley aangeval het, toon geen berou vir sy vorige veroordelings nie, en ook nie vir sy aandeel in die opspraak­wekkende Els-moord nie.

Só het adv. Hannes Cloete, aanklaer, op Maandag 3 Maart in die hooggeregshof in Kimberley in kruisondervraging aangevoer in die voorvonnisverhoor van die sewe veroordeeldes.

Els (86), bekend in diamantkringe, en sy vriendin (toe 68) is op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer gemartel en aangerand. Els is 111 dae later aan sy beserings oorlede. Die vriendin het oorleef.

Die skuldiges is: Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37) van Lesotho; Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga; Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga; en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.

Regter Lawrence Lever het vroeër vir Rankali aan diefstal; Qhautse en Mahomane aan huisbraak en roof met gewelddadige omstandighede, seksuele aanranding en moord; en Ndlala, Maja, Mbokane en Zuma aan roof met gewelddadige omstandighede skuldig bevind.

Getuies van beskuldigdes ‘oneerlik, ontwykend, teenstrydig’

Die regter het bevind hulle weergawes en getuienis is oneerlik, ontwykend, teenstrydig en hoogs onwaarskynlik. Die oorlewende slagoffer se getuienis, selfoongetuienis, skoenafdrukke wat met spore op die toneel ooreenstem en teenstrydige verklarings en ander getuienis het hul doppie geklink.

Die staat het vroeër aangevoer drie verskillende groepe mense het saamgesweer en elkeen ’n spesifieke rol gespeel. Zuma het glo van KwaZulu-Natal na Mbombela gery om Mbokane, Ndlala en Maja, ook tradisionele genesers, en hul makker Mahomane, op te laai. Vandaar het hulle na die opperbrein, Amos Ralihlare se huis in Galeshewe, Kimberley gery. Ralihlare het nog drie Sotho-sprekende mans gekry om die aanval saam met Mahomane uit te voer. Geld, selfone, ’n kamera, munte en kontant is gesteel en onder mekaar verdeel.

Qhautse, wat ’n vonnis van tien jaar uitdien vir ’n rooftog in 2016 in Douglas, het Maandag ter strafversagting oor sy persoonlike omstandighede getuig. Hy het twee ander veroordelings erken. In 2014 is hy skuldig bevind op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer in ’n voorval waarin hy iemand met ’n mes gesteek het.

Cloete het dit egter aan hom gestel dat hy deur sy ontkenning van die Douglas-rooftog in 2016 (waarvoor hy steeds gevangenisstraf van tien jaar uitdien) en aandeel in die Els-moordsaak geen berou vir sy dade toon nie. Hy het ’n geskiedenis van geweld.

“Ek is nie gewelddadig nie, dit is net wat my naam beteken,” het Qhautse geantwoord.

Hoewel ’n vonnis van lewenslange gevangenisstraf hom in die gesig staar, versoek hy begenadiging. Die betoë om strafversagting en strafverswaring duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article