Akademia

Akademia se gratis Afrikaanse verwysingsgids vir skole.

Die hoëronderwysinstelling Akademia het ’n nuttige Afrikaanse verwysingsgids ontwikkel om te dien as hulpmiddel vir leerlinge sodat hulle nou makliker en vinniger bronne vir hul skoolwerk op ’n akkurate en betroubare wyse kan verwys.

Deur gepaste verwysingstegnieke te gebruik kan leerlinge akademiese integriteit bevorder en plagiaat vermy.

“Wanneer ’n student studies ná skool aanpak, is korrekte verwysings amper so belangrik soos ’n studentenommer, veral met die ontwikkeling van tegnologie wat plagiaat makliker kan opspoor,” vertel Leah van Heerden, die projekkoördineerder vir die skolemark by Akademia.

“Dit is daarom voordelig om al vanaf skoolvlak te leer hoe om op ’n gepaste wyse bronne te erken. Goeie verwysingstegnieke is dikwels belangrike assesseringskriteria en dit kan jou opdragte van ander s’n onderskei, en selfs bydra om onderskeiding te verwerf.”

Akademia beoog met hierdie gids om goeie verwysingspraktyke by leerlinge te vestig sodat die aanpassing na verdere studies ná skool ten opsigte van verwysings nie so groot is nie.

“Om bronne op die korrekte manier te verwys, is iets wat ingeoefen moet word, en hoe vroeër leerlinge gesout kan wees hierin, hoe meer natuurlik sal hulle dit later kan toepas,” sê Van Heerden.

Sy sê dus sal studente meer tyd hê om te fokus op gehalte-inhoud van skoolwerk, eerder as om onnodige tyd te bestee om te probeer uitpluis oor hoe om na bronne korrek te verwys.

Van Heerden sê sy glo dat die gids ook onderwysers se take ligter kan maak deurdat dit maklik in enige vak toegepas kan word.

Die verwysingsgids is saamgestel deur kundiges by Akademia, met insette vanaf die Skoleondersteuningsentrum, om te verseker dat die inhoud nuttig en gepas is vir skoliere.

Leerlinge of onderwysers wat toegang tot hierdie nuttige gids wil verkry, kan dit gratis vanaf Akademia se webblad aflaai.

You need to be Logged In to leave a comment.