“EK het vir geen oomblik gedink ek sal die vroueafdeling van die Kalahari-gholfuitdaging wen nie.
“Ek het op die veld gegaan met die idee om die toernooi te geniet en ek het geen spanning op myself geplaas nie.”
Só vertel Maggie van Jaarsveldt van Kuruman wat in Maart aan die Kalahari-gholfuitdaging, wat jaarliks by die Sishen-gholfklub in Kathu aangebied word, deelgeneem het.
Sy het in 2008 begin gholf speel omdat haar man, Eddie, en haar seuns, Adriaan en Charl, al donkiejare speel en sy elke naweek by die huis moes bly.
“Ek het myself jammer gekry om elke naweek by die huis te sit en toe besluit ek ‘if you can’t beat them, join them’.
“Ek het so in my enigheid gedink as ek begin gholf speel, gaan dit die vinnigste manier wees vir Eddie om op te hou. Min het ek geweet dat as die gholfgogga jou eers gebyt het, niks jou kan keer om te speel nie.”
Sy vertel voorts dat sy nou die een in die huisgesin is wat nie genoeg van gholfspeel kan kry nie.
“Dit is ’n goeie manier om van spanning ontslae te raak. Dit maak nie saak hoe sleg ’n mens speel nie, maar daardie een goeie hou of sethou verander die slegte dag in ’n heerlike dag.”
Volgens Maggie vergeet ’n mens van alles wat jou pla en jy konsentreer net op daardie klein wit balletjie wat jy moet raak- en vorentoe slaan.
In 2014 het sy ’n goeie gholfjaar beleef deurdat sy die Order of Merit vir vroue gewen het en ook was dit die tweede jaar agtereenvolgens dat sy die vrouewenner vir die Optimum Sundowner was.
“Ek het nie gewen omdat ek goeie gholf gespeel het nie, maar ek het gereeld gespeel en my punte sodoende opgebou.
“Geleidelik het ek my puntestand verbeter en my voorgee het verminder X ek is nou op ’n 17-voorgee.”
Nie net speel Maggie gholf nie, maar sy is ook ’n leesfanatikus. Sy lees alles wat sy in die hande kan kry.
“As ek twee dae nie lees nie, kry ek onttrekkingsimptome. Naas lees, is gholf my ander passie.”
Sy doen ook naaldwerk en is baie lief vir hekel en brei.
Sy het onlangs vir haar kleindogter, Nicka (4), ’n dubbelbedkombers gehekel en nou is sy besig om vir haar en Eddie ook ’n dubbelbedkombers te maak.
“Ek is ook lief vir dans. Dit is waar ek en Eddie ontmoet het, op ’n dansbaan. Ons doen dit egter so min deesdae.”
Maggie het in Kathu grootgeword en aan die Laerskool Kathu skoolgegaan en aan die Hoërskool Kathu haar skoolloopbaan voltooi.
Sy het twee susters en vier broers.
Ná skool het sy privaat sekretarieël by die Technikon in Bloemfontein gestudeer. Sy werk vir die Kumba Sishen Ore-myn.
Maggie en Eddie het drie kinders X twee seuns en ’n dogter (Lize).
Haar jongste seun, Charl, is ook ’n kranige krieketspeler.
Vir Maggie en haar man is dit belangrik om tyd saam met hul gesin deur te bring en dit is vir hulle ’n voorreg om saam met al hul kinders te kan gholf speel.
“Nicka sal beslis eendag saam met ons speel, want sy is altyd saam met ons op die gholfbaan.”
Sy vertel dat sy droom daarvan om gesond te wees en dat sy en Eddie nog lank gespaar sal bly om vir hul kinders en kleinkinders daar te kan wees om dinge saam te doen.
“Ek kan nie beskryf hoe dit voel om ’n ouma te wees nie.
“Oumas gaan soos mal goed te kere, maar ’n mens kan jouself nie help nie. Dié gogga is erger as die gholfgogga wat jou byt.”
Maggie vertel dat dit so lekker is om Nicka se klein lyfie vas te hou en om te weet dit is nog ’n geslag wat op die aarde loop.
Nicka is baie lewendig en hou haar oupa en ouma aan die gang.
“ ’n Ouma is ’n klein bietjie van ’n ma, ’n bietjie van ’n juffrou, ’n bietjie van ’n beste vriendin en ’n engel.”
“I will neither grow up nor grow old, but I will just age gracefully with a smile,” sê sy.
“Ek wil elke dag voluit lewe en ek weier om te stres oor goed of situasies waaraan ek niks kan doen nie.”
Ten laaste voeg sy ook by dat hulle nie meer hul kinders kan veilig hou nie, maar dat hulle weet God pas hulle op