’n Man van Upington wat ’n derde keer ’n beskermingsbevel oortree het, is in Februarie in die hof in Upington tot sewe jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Dié 51-jarige man en ’n 49-jarige vrou was in ’n saamwoonverhouding en het twee kinders. Weens ’n geskiedenis van gesins­geweld het die slagoffer in Augustus 2019 ’n beskermingsbevel verkry wat die man verbied het om enige vorm van mishandeling te gebruik, hetsy verbaal, emosioneel of fisiek.

In November 2024 het die man na die vrou se huis gegaan, aggressief geraak en haar verbaal mishandel. Die slagoffer het dit by die polisie aangemeld, waarna die man in hegtenis geneem is. Tydens ’n hofverskyning het hy skuldig gepleit, en is skuldig gevind.

Bewyse is gelewer dat hy voorheen skuldig bevind is aan soortgelyke oortredings teen die vrou, waarvoor hy opgeskorte vonnisse ontvang het. Die staat het beklemtoon dat geslagsgeweld ’n voortdurende krisis is en dat vroue en kinders die reg het om sonder vrees of intimidasie te lewe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article