Die verwoesting wat sprinkane – die “gevreesde vrate” van lewende plantmateriaal – kan veroorsaak, word reeds in Ou-Testamentiese tye beskryf. Meer as 10 000 sprinkaanspesies word oor die wêreld heen gevind, en kom in verskeie kleure en groottes voor. Volgens hul gewig en grootte word dié insekte as die sterkste springers in die diereryk beskou. Luidens die webwerf Mieliestronk is groot swerms sprinkane se daaglikse voedselinname glo gelyk aan dié van 1,5 miljoen mense. In enkele kulture se kookkuns word dié insek, wat pure vlerke, pote en stekelrige dele is, ’n krakerige, gebraaide lekkerny.

Foto: Helena Barnard