NOORD-KAAP – Gevalle van Slenkdalkoors is deur die Noord-Kaapse Direktoraat van Veeartsenydienste in dié provinsie bevestig. Die voorkoms van Slenkdalkoors wat onder ‘n aantal skape in die Kakamas- en Augrabies-omgewing vermoed is, is deur die veterinêre navorsingslaboratorium by Onderstepoort bevestig.
Slenkdalkoors is ’n ernstige insekgedraagde virussiekte wat onder hoefdiere soos skape, bokke en beeste voorkom en wat ’n groot gesondheidsgevaar vir die mens inhou. Die voorkoms van dié siekte volg weens ‘n toename in muskiete ná die onlangse reën. Diere wat in die somer in laagliggende dele by panne, vleie en damme wei, het die grootste risiko om die siekte te kry.
In ‘n verklaring op 14 November het die direktoraat boere versoek om skape, bokke en beeste as ‘n voorsorgmaatreël in te ent en alle moontlike veiligheidsmaatreëls met die hantering van siek diere en besmette karkasse te volg.
Simptome by diere
Volgens TLU SA word diere aanvanklik besmet as hulle deur die muskiete wat die virus dra, gebyt word. Hierna word die diere direk besmet wanneer hulle aan geaborteerde fetusse en besmette materiaal of weefsel blootgestel word.
Siektetekens onder diere sluit koors, aborsies, swakheid en lam- of kalfvrektes in.
Lammers van skape en bokke onder die ouderdom van twee weke is baie vatbaar. Hulle word baie gou siek, gewoonlik binne 24 tot 72 uur ná besmetting. ’n Hoë koors ontwikkel, hulle is lusteloos en verloor eetlus. Tot 95% van aangetaste lammers kan vrek.
Skape is lusteloos, met ’n hoë koors, traag om te loop, eet nie en gooi op. Dragtige ooie aborteer en die fetus ontbind gou. Vrektes onder skape is so hoog as tussen 15% tot 30% en tussen 40% en 60% van dragtige ooie kan aborteer.
By kalwers kom ligte kliniese tekens en 10% tot 15% vrektes voor. By volwasse beeste is die 10% tot 40% aborsies wat voorkom soms die enigste siektetekens.
Slenkdalkoors by mense
Mense raak gewoonlik deur regstreekse aanraking met die Slenkdalkoorsvirus besmet wanneer hulle nadoodse ondersoeke op besmette karkasse of geaborteerde fetusse doen of in laboratoriums met die virus werk. Die virus dring ’n mens se liggaam deur slymvliese of wonde in die vel in. Boere, veeartse en plaaswerkers, wat direk met dié diere werk, het die grootste risiko om Slenkdalkoors op te doen.
Simptome van Slenkdalkoors by mense sluit griepsimptome soos koors, hoofpyn, spierpyn, gewrigpyn, swakheid, naarheid, buikongemak en ligsensitiwiteit in. Met komplikasies kan onder meer gedeeltelike of algehele blindheid, en ‘n vorm van meningitis intree. Sterftes beloop sowat 0,5%.
In die algemeen herstel mense gewoonlik binne vier tot sewe dae.
Voorkoming
Waar moontlik moet muskietbeheer toegepas word deur die dreinering van stilstaande water en die gebruik van insekdoders. Inenting by diere is egter die mees effektiewe beheermaatreël.
Verskuif diere van laer- na hoërliggende dele en voorkom dat kuddes naby vleie, damme en riviere wei waar baie muskiete is. Dipmiddels wat effektief teen bytende insekte is mag ook oorweeg word.
Persone wat met siek diere of besmette karkasse werk, word ten sterkste aangeraai om beskermende klere te dra. Mense kan met die virus besmet word deur kontak of aanraking met die besmette diere of karkasse se neusuitloopsels, bloed, afskeiding ná aborsie, besmette vleis en die inname van ongepasteuriseerde melk. Voorkom muskietbyte waar moontlik – gebruik muskietafweermiddels.
Weefsel en ander materiaal, soos geaborteerde fetusse en plasentas, moet diep begrawe of verbrand word.
Agtergrond
Die virus is die eerste keer in 1930 tydens ’n epidemie onder skape in die Slenk- of Skeurdalgebied (Rift Valley) in Kenia geïsoleer. Die siklusse in die voorkoms van die siekte word grootliks deur reënval bepaal. Uitbrekings kan verwag word in jare met goeie reën wat gunstige toestande vir die oorlewing van die virus in Aedes-muskieteiers skep.
Die Slenkdalkoors-virus oorleef in dié eiers, wat meebring dat muskiete wat uitbroei klaar met die virus besmet is. As sulke muskiete vee byt, dra hulle die virus oor en dié diere dien as bron van virusse om honderde ander Aedes-muskietwyfies te besmet, wat dit weer deur hul eiers aan hul nageslag oordra.
- Gevalle van miltsiekte, asook bek-en-klouseer is reeds vanjaar in Suid-Afrika aangemeld.
- Die nommers van die staatsveearts in Upington is 087 630 0304, 083 452 9850 of
078 486 9275. - Mense wat vermoed hulle het die siekte onder lede moet dadelik hul huisdokter of die naaste mediese fasiliteit kontak.
LEES OOK: Uitbreking van miltsiekte: Boere dringend gemaan om inentings te doen
LEES OOK: Bek-en-klouseer in Vrystaat styg steeds


