Een van die beskuldigdes in die Piet Els-moordverhoor het Maandag (22/08) in Kimberley in die getuiebank met tye toegegee dat haar weergawes van gebeure verander, maar ontken dat sy haar medebeskuldigdes, onder wie ’n seun van oudpres. Jacob Zuma, probeer beskerm.
Die verdediging bied getuienis in die opspraakwekkende verhoor aan nadat hul aansoek om ontslag verlede week misluk het.
Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), albei van Lesotho, het hul saak Maandag gesluit. Daarna het Lizbeth Ndlala (56) in haar eie verdediging getuig.
Themba Lawrence Maja (68) en Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal moet nog besluit of hulle gaan getuig.
Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.
Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest, (toe 68) is op 24 Januarie 2018 in sy slaapkamer met ’n strykyster gemartel en aangerand.
Els is 111 dae ná die aanval in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.
Uit die getuienis is drie groepe betrokkenes geïdentifiseer. Zuma het van KwaZulu-Natal na Mbombela gery omdat hy ’n advertensie van ene Amos Ralihlare gelees waarin hy sê hy kan help om ou munte op te grawe en bose geeste te verjaag.
In Mbombela het hy vir Ndlala; Maja, haar man; Mahomane, ’n familielid van Ndlala; en Mbokane opgelaai omdat hulle rituele vir hom in Kimberley moes uitvoer. Die tweede groep mense is Ralihlare (wat ook ’n rol gespeel het) en sy vriendin by wie se huis Zuma en sy geselskap in Galeshewe aangekom het. Die derde groep is drie Sotho-sprekende mans wat die aanval uitgevoer het.
Volgens haar het hulle met hul aankoms in Kimberley na Ralihlare se huis gegaan en die dag en nag daar deurgebring en geslaap. Later is hulle deur aggressiewe gewapende mans opgeklop wat hulle verjaag het.
Maandag het sy haar getuienis aangepas en gesê Zuma en Mahomane het die nag saam met hulle in die huis deurgebring, anders as in haar eedsverklaring. Nog is ’n verskil is dat Ralihlare met hul vertrek elkeen R10 000 en hande vol munte gegee het, en nie Zuma soos sy aanvanklik verklaar het nie.
In hul verklarings het Maja, Mahomane en Mbokane soos sy ook aangevoer Zuma het daardie nag kontant aan almal uitgedeel.
Adv. Hannes Cloete, aanklaer, het haar beskuldig dat sy die ander beskuldigdes beskerm. In haar verklaring het sy gesê die drie gewapende mans het maskers aangehad, sy kon hulle nie eien nie. In haar getuienis het sy egter gesê sy weet dit was nie Rankali en Qhautse nie. In kruisondervraging is sy herinner sy kon hulle nie eien nie.
Sy ontken sy het ’n ritueel vir die aanvallers uitgevoer sodat hulle nie beseer of doodgemaak word wanneer hulle Els beroof nie. Volgens haar kan sy nie meer mooi onthou wat op die aand van die voorval en met haar inhegtenisname gebeur het nie. Cloete het aangevoer sy maak die polisie verdag deur te beweer hulle het ’n vuurwapen op haar gerig en gesê sy is ’n heks.
Die verhoor duur voort.


