Gesondheid eenvoudig

Om ’n gesonder en gelukkiger lewe te lei hoef nie groot of ingrypende veranderinge te behels nie.


Om ’n gesonder en gelukkiger lewe te lei hoef nie groot of ingrypende veranderinge te behels nie.

Enkele klein aanpassings kan ’n groot verskil maak.

Vir die vlees

  • Strek elke oggend. Probeer om elke strek-oefening minstens 30 sekondes lank te hou.

  • Gaan stap of draf elke dag met die hond. Navorsing wys dat ’n vierpoot wat jou verantwoordbaar hou een van die beste maniere is om met ’n oefenprogram vol te hou.

  • Drink meer water.

  • Maak afsprake vir daardie jaarlikse doktersondersoeke wat jy aanhoudend uitstel.

  • Gooi al die dieetpoeiers en -skommels in die asblik en eet regte, gesonde kos. As die woorde “skinny” of “fat burner” op ’n etiket verskyn, hou ver verby.

  • Vermy enige skermtyd ’n uur voor jou slaaptyd. Hou ook op om jou selfoon as ’n wekker te gebruik en skaf eerder ’n outydse een aan.

  • As jy ouer as 50 is, maak seker jou multivitamienpil bevat vitamien B12 en vitamien D.

  • Drink elke oggend ’n omega-aanvulling

Vir die gees


  • Begin ’n dankie-dagboek. Skryf elke dag iets neer waarvoor jy dankbaar is.


  • Wanneer jy terneergedruk voel, eet ’n sitrusvrug, soos ’n nartjie of lemoen, en kneus die skil tussen jou vingers. Navorsing wys dat die geure van sitrusvrugte ’n mens kan opkikker wanneer lusteloosheid tref.

  • Teken en krabbel meer. Fokus op die kreatiewe skeppingsproses en die genot wat jy daaruit put – nie op die eindresultaat nie.

  • Haal ordentlik en diep uit jou maag asem. Wanneer dit voel asof dinge te veel raak, haal diep deur jou neus asem, tel tot tien en blaas dit uit by jou neus.

  • Sit elke dag sowat tien minute in die son. Dit is egter belangrik om die sonskerm te onthou.

  • Gaan stap minstens een keer per week in ’n groen ruimte, soos jou plaaslike park of botaniese tuin.

  • Leer om met selfvertroue nee te sê – hetsy dit nou vir jou kinders, ’n veeleisende vriend of jou kollega is.

  • Bring meer tyd in die tuin deur en minder voor ’n skerm of rekenaar.

Saamgestel deur Carla Lewis

You need to be Logged In to leave a comment.