Twee polisiesersante van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se voertuigdiefstal-eenheid in Kimberley wat in verskeie afsonderlike strafsake van onder meer voertuigdiefstal, bedrog en korrupsie aangekla word, hou in hul uitgerekte borgtogaansoek in die plaaslike landdroshof vol hulle is onskuldig.
Een van hulle is verlede jaar deur die polisie ontslaan maar weer aangestel nadat daar op hoëvlak ingegryp is.
Serss. Khiba Domini Zulu en Tshepo Abraham Thae en hul drie medebeskuldigdes, Phenyo Sekutenyane, Shepherd Ndimande en Thepelo Goodenough Pandle, staar ses aanklagte in die gesig wat insluit oortredings van die Wet op die Vrederegters van die Kommissarisse van Ede, bedrog, korrupsie, voertuigdiefstal en regsverydeling.
Vermoedelik deel van sindikaat
Die polisielede se medebeskuldigdes is reeds op borgtog van onder meer R10 000 en R15 000 vrygelaat, maar die staat staan die borgtog van die polisielede teen omdat hulle reeds op ander soortgelyke strafsake op borgtog vrygelaat is, maar die voorwaardes oortree het deur steeds met voertuigdiefstalsake te werk.
Hul borgtogaansoek word weens die ander soortgelyke sake teen hulle ingevolge bylae 6 van die Strafproseswet aangehoor. Dit beteken hulle moet wesenlike en uitsonderlike omstandighede bewys om borgtog te regverdig.
Verlede week in die polisielede se borgtogaansoek is gehoor dat hulle reeds geskors en van hul voordele verloor het ná hul inhegtenisname aan die begin van November. Zulu en Thae word saam in ’n ander saak in die spesiale handelshof onder meer van korrupsie en bedrog aangekla, en Thae afsonderlik en gesamentlik met ander beskuldigdes in twee ander sake.
Sers. Clifford Sinley, ondersoekbeampte, het getuig dat hy vermoed die beskuldigdes is deel van ’n sindikaat.
Wanneer daar op goedere beslag gelê word, moet ’n polisie-lid ’n SAPD 13(b) uitreik aan die persoon by wie die goedere op beslag gelê is. Die goedere waarop beslag gelê is, word in die SAPD 13-eiendomstoor gehou, waar ’n polisiebeampte daarvoor verantwoordelik is.
Hulle het na bewering valslik in eedsverklarings aangevoer hulle het op die voertuie beslag gelê, fisiek geïnspekteer en by die SAPD 13-eiendomstoor in Kimberley ingeboek. Die beskuldigdes sou na bewering die enjin- en onderstelnommer verander.
Die klaringsertifikate is op vreemde wyse by die Hartswater-polisiekantoor uitgereik waar die jaar-model van die voertuig verander is voordat dit op die eNatis-stelsel as ander voertuie geregistreer is. Dit beteken dat dieselfde voertuie twee verskillende onderstel- en enjinnommers het.
Zulu en Thae is na die Galeshewe-polisiekantoor verplaas, maar het wederregtelik steeds werk in die voertuigdiefstaleenheid gedoen.
‘Help kollegas vanweë ervaring met voertuigdiefstal’
In die jongste voorval is ’n gesteelde Jeep Cherokee 2019-model se besonderhede verander na dié van ’n voertuig wat uit die 1960’s dateer waarna dit weer op die stelsel geplaas is. Die teenkorrupsie-eenheid in Bloemfontein het die Jeep in Sekutenyane se vrou se besit gevind.
Volgens Sekutenyane het hy die voertuig by Ndimande gekoop, maar die voertuig was in Pandle se naam registreer. Na bewering is Pandle se ID-dokument deur Zulu in dié bedrieglike proses gebruik.
Volgens Sinley toon hul ondersoek dat ander voertuie soos ’n Massey Ferguson-trekker, ’n swart BMW, ’n Kia Rio en ’n Porsche in ander gevalle op dieselfde wyse onder vals saaknommers herregistreer is.
Adv. Kenneth Julies, namens Zulu, het in kruisondervraging aangevoer dat Zulu as polisieman misdaad moet bekamp en dat sy ervaring by die voertuigdiefstaleenheid ingespan moet word. Hy is nie die een wat die voertuie op die eNatis-stelsel ingevoer het nie, maar verkeersbeamptes.
Soos enige ander polisielid het hy sy plig gedoen en voertuie ingeneem wat vermoedelik gesteel is. Daar kan nie gesê word hy steel voertuie nie.
Thae het in sy getuienis aangevoer dat hy op borgtog vrygelaat moet word om vir sy gesin en sy broer wat studeer, te sorg. Hy het nooit sy ander borgtogvoorwaardes oortree nie.
In kruisondervraging van adv. Sazile Gesi, aanklaer, het hy ontken dat hy verkeerd opgetree het. Volgens hom het hy Zulu op versoek bygestaan om op voertuie beslag te lê en het net ’n vorm ingevul, nie ’n verklaring afgelê nie. Hierop het hy lank na Zulu gestaar. Hy het nie die voertuig nagegaan nie, en net die saakverwysingsnommer soos deur Zulu verskaf, gebruik. Hy beweer die voertuig is nie as gesteel aangemeld nie, net die onderdele daarvan.
Adv. Gesi het dit aan hom gestel dat hy in ’n getekende verklaring aanvoer die voertuig was nie gesteel nie. Thae het geweier om in die meriete van die saak in te gaan. Hy het ook nie geantwoord hoekom hy op die dag van die beweerde voorval by die voertuigdiefstal-kantoor in plaas van Galeshewe was waar hy veronderstel is om te werk nadat hy oorgeplaas is nie. Thae voer aan hy help ander kollegas steeds vanweë sy ervaring met voertuigdiefstal.
Die aanklaer het Thae beskuldig dat hy vrae ontwyk.
Adv. Thobile Komazi, tree namens Thae op.
Landdros Memory Qomoyi het die saak na Dinsdag 10 Desember uitgestel.


