Die geskorste dr. Dion Theys, ’n voormalige waarnemende departementsbestuurder van gesondheid in die Noord-Kaap wat in twee strafregtelike sake van onder meer bedrog aangekla is, is saam met sy mede-beskuldigde Daniel Mosimanegape Gaborone, voormalige finansiële hoof, “terug by die departement”.
Theys en Gaborone is vroeër weens die aanklagtes teen hulle geskors terwyl die departement pa gestaan het vir hul regskostes en hul salarisse betaal het.
Terwyl een saak hangende verdere ondersoek teen hulle teruggetrek is, word die deelverhoor van die ander saak teen Theys op 24 Mei in die spesiale handelsmisdaadhof voortgesit.
Die departement het nie op navrae oor Theys en Gaborone se terugkeer reageer nie.
Intussen is Steven Jonkers, nog ’n voormalige departementshoof wat ook strafregtelik in ’n afsonderlike saak oor ’n beweerde twyfelagtige sekuriteitskontrak aangekla is, na die kantoor van die premier as adjunk-direkteur-generaal oorgeplaas. Die verhoor teen hom en twee ander begin op 6 Maart in die hooggeregshof.
Volgens Mojalefa Senokoatsane, Nasionale Vervolgingsgesag-woordvoerder, is die saak teen Theys en Gaborone waarin hulle van tenderbedrog en oortredings van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) aangekla is vir die aankoop van persoonlike beskermende toerusting (PPE) tydens die Covid-19-pandemie, in Desember 2022 tydelik van die rol geskrap hangende verdere ondersoek.
Die verhoor teen Theys waarin hy na bewering twyfelagtige huurooreenkomste vir studenteverblyf van R96 miljoen aangegaan het, duur voort. Hy word aangekla dat hy tussen 2010 en 2012 as die rekenpligtige amptenaar die betrokke wetgewing oortree het toe drie huurooreenkomste vir studenteverblyf aangegaan is. Hy moet sy getuienis voorlê, indien enige, nadat die staat sy saak gesluit het.
Die staat voer aan die rekenpligtige beampte moet verseker dat die departement ’n toepaslike verkryging- en voorsieningbeleid handhaaf wat regverdig, billik, deursigtig, mededingend en kostedoeltreffend is. Die beampte het die plig om ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en verkwistende uitgawes te voorkom.
Riaan Strydom, waarnemende departementshoof, het op 13 Januarie vanjaar in ’n omsendbrief aan personeel geskryf dat Theys en Gaborone sedert die begin van Januarie “terug is” by die departement. Gaborone is terug in sy vorige pos, terwyl Theys nou ’n “provinsiale mediese direkteur” is.
Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid, en Strydom het voorheen op nuuskonferensies gesê hulle gaan korrupsie en bedrog uitroei in ’n departement wat jare lank gekwalifiseerde ouditverslae ontvang.
Die ouditeur-generaal (OG) wys in sy ouditverslag vir die 2021-’22 boekjaar onder meer uit dat daadwerklike stappe nie gedoen is om onreëlmatige en vrugtelose uitgawes te voorkom, belastingbetalers se geld met die toestemming van die rekenpligtige amptenaar bestee is of dat krediteure ingevolge tesourie-vereistes binne 30 dae betaal is nie.
Die OG kon geen ouditbewyse vind dat tugstappe teen amptenare gedoen is wat ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en vermorste uitgawes aangegaan het nie omdat geen interne ondersoeke gedoen is nie.
Jonkers, ’n voormalige polisiebeampte, word saam met Gert Renier van Rooyen en Claudius Gerald Peterson van onder meer bedrog en oortredings van die PFMA aangekla oor ’n veiligheidkontrak van R384 miljoen. Jonkers as rekenpligtige beampte het dit in 2017 aan die Defensor-maatskappy toegeken. Dié beweerde twyfelagtige kontrak is nog nie deur die departement kanselleer nie.
Die OG bevind in sy jongste verslag dat terwyl Jonkers aan die stuur was, ’n drie jaar kontrak vir mediese afvalverwydering van R4,4 miljoen per maand aangegaan is. Die kontrak verskil van die voorwaardes wat in die tender uitgesit is, wat ’n oortreding van tesourie-regulasies is. Die rekenpligtige amptenaar het enige oortredings teenoor die OG ontken.
Die departement het ook in 2013 ’n kontrak (en vier verlengings tot 2019) van R17 miljoen aangegaan vir die verskaffing van radiologiese dienste. ’n Berekeningsfout het veroorsaak dat die diensverskaffer te veel betaal is. Betalings is ook gedoen terwyl daar nie ’n mammogram-masjien beskikbaar was nie. Jonkers is in Julie 2019 hiervan in kennis gestel waarna hy ondersoek ingestel het. Hy is in Maart 2020 by die premier se kantoor aangestel.
Geen tugstappe is teen die betrokke amptenare in die interne ondersoek gedoen nie. Die saak is in Januarie 2021 na die Valke verwys.


