Nasionale en provinsiale owerhede, munisipaliteite, die polisie en die gemeenskap mag nie toelaat dat rondlopers en vandale die stad se erfenis stuk vir stuk vernietig nie.

So sê Timothy Ratha, bestuurder van die Noord-Kaapse Erfenishulpbron-bestuurs­agentskap, wat onder die departement van sport, kuns en kultuur val.

Dit kom nadat verskeie beelde en monumente oor die afgelope jare en maande in Kimberley en elders in die provinsie vernietig is.

Ratha, die enigste personeellid, is egter raadop. Hy alleen het nie die mannekrag om die provinsie se erfenisskatte te bewaar nie.

“Die waarskynlikste motief vir vandalisme is werklose straatslapers en dwelmverslaafdes wat beelde opkap om die metaal as skrootmetaal te verkoop. Dit is nie mense wat teen kolonialisme of imperialiste gekant is nie, soos sommiges beweer nie.”
Timothy Rhata

Hy is besig om ’n register van die erfenisskatte in elke Noord-Kaapse dorp op te stel, volgens hom ’n enorme taak. Die monumente, geboue, beelde, senotaaf en ander geskiedkundige plekke soos Canteen Kopje, waar delwers meer as ’n eeu gelede by Barkly-Wes bedrywig was, word onder wetgewing beskerm.

“Ons moet elke stuk van ons geskiedenis bewaar om te weet wie ons is en waar ons vandaan kom. Dit gee ons kinders ’n identiteit en toekomsvisie. Vir elke beeld uit die apartheidsjare, moet ’n ander beeld opgerig word om die geskiedenis verder te vertel.”
Timothy Rhata

Volgens hom word erfenisskatte soos monumente en beelde as van munisipale, provinsiale of nasionale belang gegradeer.

“Dit is noodsaaklik vir owerhede om sekuriteitsplanne op te stel en die erfenisskatte fisiek te beskerm.”

Dit is egter nie net beelde en plate wat verwoes word nie.

“Huise en geboue ouer as sestig jaar word ook onder wetgewing beskerm. Enigeen wat wil aanbou of aan die struktuur verander, moet eers ’n permit by ons verkry. Ons moet die beplande bouwerk goedkeur, want daar mag byvoorbeeld nie aan ’n fasade verander word nie. Dit verg geld en tyd van die eienaar.

“Sommige slinkse eienaars laat die geboue met opset vandaliseer of afbrand sodat hulle kan aanvoer die gebou is so verwoes, dit moet gesloop word. Sommige winkeleienaars het al oornag, vakansietye of naweke onwettig aan geboue verander en roldeure by hul winkels aangebring.”

Nog een van sy kwellings is die eerste kleisteenhuise in Galeshewe wat verbrokkel.

“Die huise is van onskatbare geskiedkundige belang, maar die eienaars het nie geld of kundigheid om herstelwerk met kleistene en ander geskiedkundige boumateriaal te doen nie. Dit sal goed wees as die owerhede sommige huiseienaars kan bystaan om hul huise op die korrekte wyse op te knap, wat terselfdertyd lewende museums kan wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article