Lauren Naudé sit ure lank op ’n dag agter ’n naaldwerkmasjien. Foto: Alzane Narrain


Lauren Naudé

Lauren Naudé sit ure lank op ’n dag agter ’n naaldwerkmasjien. Foto: Alzane Narrain

Terwyl die koronavirus inwoners van die Kalahari agter geslote deure gehou het, het ’n maatskaplike hulpwerker in Kuruman gewerk om kinders veilig te hou.

Lauren Naudé van die ACVV het ’n naaldwerkmasjien uit die kas gehaal om in die stryd teen die Covid-19-pandemie maskers vir nasionale kinderbeskermingsweek te maak.

Sy sê daar is talle kinders in die Kuruman-omgewing wat nie maskers het nie.

“Dit het vir my duidelik geword dat daar nie kleiner maskers beskikbaar is wat beter op jonger kinders se gesigte pas nie.”

Lauren Naudé

Lauren Naudé het gesigmaskers wat kinders pas by die Bring Back Hope-sentrum afgelewer. Van links is Schalkie Pienaar (11), Milla Januarie, Lauren Naudé, Matthew van Rooyen (5) en Lizelda Januarie. Foto: Alzane Narrain

Weens die staat van inperking wat veroorsaak het dat baie nie kon werk nie, kan inwoners ook nie bekostig om geld op ’n masker te bestee nie.

Naudé sê sy is nie ’n watwonderse naaldwerkster nie en het maar ses maande terug vir die eerste keer aan ’n naald en garing geraak.

Sowat twee weke gelede het sy besluit om haar naaldwerkmasjien af te stof en haar deel vir kinderbeskermingsweek te doen.

Op Vrydag 5 Junie, het sy sowat 30 maskers en handontsmettingsmiddels aan kinders in en om die dorp uitgedeel.

Lauren Naudé

Van links spog die Corner-sibbe Tominique (8), Giandre (9) en Taylor (6) met hul maskers en handontsmettingsmiddels. Foto: Alzane Narrain

Milla Januarie, van die Bring Back Hope-sentrum vir kinders met spesiale behoeftes, sê die maskers beteken baie vir die sentrum.

Schalkie Pienaar (11), wat blind is, sê hy is bly dat hy ’n groen masker gekry het omdat groen sy gunsteling kleur is.

“Mense moet hul maskers dra om nie die virus te kry nie,” sê Schalkie.

In Wrenchville sê die sesjarige Taylor Corner sy kan nie wag om haar maatjies haar oranje masker te wys nie.

Marvin Jina (13) van Wrenchville sê hy weet die masker gaan hom teen Covid-19 beskerm. Hy sê hy sien uit om sy masker te dra wanneer hy weer by sy vriende gaan kuier.

Lauren Naudé

Lauren Naudé oorhandig ’n masker aan Marvin Jina (13). Foto: Alzane Narrain

You need to be Logged In to leave a comment.