Dit is nie sonder rede dat ouers vir hul kinders van kleins af leer dat hulle mooi moet kies saam met wie hulle speel, wie hul vriende is, waar hulle hul tyd deurbring en met wie hulle sosialiseer nie.
Dit het my jare gevat om agter te kom dat ouers eintlik baie opreg en nugter hieroor dink.
Dit gaan nie oor die feit dat jy dink jy is beter as ander nie.
Glad nie.
Dit gaan oor baie meer.
Die mense met wie jy jouself omring, bepaal in ’n groot mate jou menswees.
Ons almal dink te maklik mense beïnvloed ons nie.
As jy gemaklik raak met ’n vriendekring wat anders as jy dink en doen, begin dit jou radikaal beïnvloed.
As jy byvoorbeeld gemaklik raak met jou buurman se te veel drink by ’n braaigeselligheid, begin jou eie oordeel aangetas word.
So geld dit ook as jy jou omring met ’n sosiale groep wat gereeld (lees té gereeld) drankies drink.
So kan jy gemaklik raak met kollegas wat om elke hoek en draai ’n geleentheid vir ’n kuier sien – en so kan jy jou in ’n vriendekring begeef wat verander wie jy was.
In kort: Jou eie gedagtes en besluitnemingsvermoë word gouer negatief beïnvloed as wat jy dink.
Let op met wie jy jouself omring.
Nie omdat jy hoogmoedig of veroordelend is nie, maar ter wille van jou eie menswees.
Ter wille van jouself.

