Die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington verwerp “valse berigte” op sosialemediaplatforms dat die drinkwater in die dorp onveilig is om te drink en dat inwoners gebottelde water moet koop.
Patrick Williams, woordvoerder vir die munisipaliteit, sê sulke valse gerugte veroorsaak paniek. In ’n verklaring verwys hy na weeklikse watertoetse wat by ’n geakkrediteerde laboratorium gedoen word, en wat aandui dat die water aan die vereistes van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (Sans) voldoen.
Williams sê dat nie alle gebottelde water of waterstasies in die dorp aan dié vereistes voldoen nie.
Hy noem dat die munisipaliteit onderskeidelik 97,1%, 99%, 98,1% en 97,3% vir Junie, Julie, Augustus en September vir mikrobiologiese akute gesondheidsnakoming in laboratoriumtoetse ontvang het.
Williams stel voor dat die webwerf van die munisipaliteit besoek word, waaarop die nuutste inligting oor watertoetse en punte waar die water getoets is, beskikbaar is.
Hy sê voorts dat stukkende waterpype, wat van tyd tot tyd voorkom, die gehalte van water vir kort tydperke op sekere plekke kan beïnvloed.
Skryf aan pieter.kock@dkm.gov.za of charles.mchizwa@dkm.gov.za met navrae oor watergehalte, of skakel 054-338-7181 of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 064-953-8130.

