judge signing on the papers
Foto: Katrin Bolovtsova/pexels.com

Die staat moes verlede week erken dat ‘n verhoor wat telkens uitgestel is, weer uitgestel moes word. Dit is weens ‘n verlore DNS-bewysstuksak in die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria.

Dié betrokke verhoor is ‘n moordsaak waarin Butiki Simon Maboitshege daarvan aangekla word dat hy sy lewensmaat vermoor het. Dit het in Februarie 2024 in Warrenton plaasgevind.

Adv. Elmari Krüger, aanklaer, het aan regterpresident Pule Tlaletsi verduidelik die saak sloer weens die verlore DNS-forensiese bewusstuksak by die laboratorium. ‘n Dissiplinêre verhoor hieroor is aan die gang.

Die ondersoekbeampte se bevelvoerder sou glo self na Pretoria reis om die verlore sak te soek.

Die staat voer aan Maboitshege, wat ook van regsverydeling aangekla word, en sy vriendin, Marly Nero, het saam in Ikhutseng gebly.

Op 26 Februarie 2024 was hulle by ‘n taverne, waar hulle rusie gemaak het. Bure het daardie nag gehoor hoe die oorledene om hulp skreeu. Haar naakte lyk is die volgende oggend op haar bed gevind. Haar beserings dui aan sy is met stomp voorwerpe aangerand.

Maboitshege het glo aangevoer iemand anders het haar vermoor, maar het sy klere verbrand wat hy die betrokke aand aangehad het.

Die verhoor is tot 9 Junie uitgestel.

Twee moordverhore uitgestel ná afdanking van regsverteenwoordigers

In dieselfde hofsitting is nog twee ander moordverhore uitgestel nadat die twee beskuldigdes vroeër hul regsverteenwoordigers van Regshulp Suid-Afrika afgedank het en nuwes aangestel moes word.

Die verhoor teen Alberto Linden Matthews (47) is tot 2 Junie uitgestel sodat die nuwe regsverteenwoordiger homself op die verhoor kan voorberei. Matthews word onder meer aangekla van die skietdood van sy lewensmaat Mandy Bailey (43). Dit het in haar huis in Beaconsfield, Kimberley, voor haar dogter (9) plaasgevind.

Matthews is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Hy het twee onsuksesvolle borgtogaansoeke in die landdroshof in Kimberley gebring. Tydens dié verskynings het vriende en familie van Bailey voor die hof betoog en hul misnoeë oor Bailey se moord te kenne gegee.

Daniel Wilfred Alberts (40), wat van die moord op twee polisielede aangekla word, se verhoor is tot 4 Augustus uitgestel.

Hy word deur 12 aanklagte in die gesig gestaar, wat insluit moord, ontvoering, diefstal, roof, roof met verswarende omstandighede en roekelose bestuur.

Daniel Alberts
Daniel Alberts op Dinsdag 18 Maart in die hooggeregshof in Kimberley. Foto: Charné Kemp Credit: Charné Kemp

Alberts het na bewering op 10 Augustus 2023 in Sandton, Gauteng, ‘n voertuig gehuur, maar nie daarvoor betaal nie. Hy het glo op die vlug geslaan. Alberts het na Kimberley gery, waar sers. Kedimetsie Masilo en konst. Onkeatse Mandindi, die twee polisielede wat doodgeskiet is, hom wou aankeer.

Nadat hy hulle na bewering met een van hul vuurwapens geskiet het, het hy twee ander mans in hul bakkies gekaap, voordat hy uiteindelik in Riverton buite Kimberley vasgetrek is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article