Die familie van die jong weesmeisie wat vanaf 2017 tot 2020 herhaaldelik deur vyf mans in Pofadder verkrag is, is verlig dat drie van die vyf mans lewenslange gevangenisstraf opgelê is.
Dié vonnis is op 10 April deur die hooggeregshof in Upington uitgespreek nadat hulle op 20 Desember skuldig bevind is.
Waybril Gertse (41), Graham Gertse (31) en André Magerman (34) is lewenslange gevangenisstraf opgelê, terwyl Virnit Priega (40) gevangenisstraf van 25 jaar en Alfonsus Visagie (55) gevangenisstraf van 18 jaar ontvang het.
Daphne Stuurman, wat ook in die saak getuig het, sê die familie is verlig.
“Die slagoffer wat nou 17 jaar oud is, kan nou eers met haar lewe aangaan. Sy het die heeltyd gevrees hulle gaan vrygespreek word en haar weer seermaak. Sy het berading gekry, maar moet dit steeds ondergaan omdat sy die trauma moet verwerk.”
Die meisie het in 2022 aan Stuurman vertel wat die mans aan haar sedert haar negende jaar gedoen het. Albei haar ouers en haar een ouma was reeds oorlede, wat haar weerloos teen die mans gemaak het.
Stuurman het dadelik die maatskaplike dienste gebel, waarna die polisie opgedaag het.

“Speursers. John Nortje, die ondersoekbeampte, was ongelooflik. Hy het vinnig en daadwerklik opgetree en sy ondersoek was deeglik.”
Stuurman sê sy voel verlig oor die vonnis, maar ook hartseer omdat van die mans aan haar bekend is.
“Maar terwyl ek getuig het, was hulle onaangeraak en traak-my-nie-agtig in die beskuldigdebank. Ons voel geregtigheid het geseëvier.”
Polisie hou aan om geweld teen vroue, kinders te beveg
Volgens lt.kol Sergio Kock, polisiewoordvoerder, is die meisie deur die vyf beskuldigdes verkrag.
“Ná die dood van haar naasbestaandes, is sy in die sorg van ʼn familielid geplaas, wat die voorvalle by die departement van maatskaplike ontwikkeling in Pofadder aangemeld het. Daarna is ‘n ondersoek deur die polisie van stapel gestuur.
“Al die beskuldigdes is in September 2020 in hegtenis geneem en borgtog is suksesvol deur die polisie teengestaan.”
Die skuldiges se name sal in die Nasionale Register vir Seksoortreders geregistreer word, en hulle is onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse provinsiale kommissaris, het Nortjé van die polisie in Pofadder se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) vir sy onwrikbare toewyding en noukeurige ondersoek geloof. Dit het tot die skuldigbevindings gelei.
Volgens Otola sal die polisie in samewerking met aanklaers aanhou om die geweld teenoor vroue en kinders te beveg.
Sy het die Nasionale Vervolgingsgesag geloof vir hul rol om te verseker dat die misdadigers vir hul gruwelike misdade boet.
You must be logged in to post a comment.