Die gemeenskap van Victoria-Wes en omgewing het hul deure wawyd oopgegooi vir die 48 stappers wat aan die Victoria-Wes Camino ten bate van die Red ’n plaas, Red ’n Gemeenskap-rampfonds deelgeneem het.
Met die son wat meestal agter die wolke geskuil het, het stappers van onder meer Bray, Hoedspruit en Strand dag een van dié staptog aangedurf wat vanaf 6 tot 12 April geduur het.
Die eerste nag het die hemelsluise oopgetrek en was koue, reën, modder en onbegaanbare paaie deel van die uitdagings waarmee die stappers te kampe gehad het. Die eerste drie dae kon ondersteuningsvoertuie met die stappers se bagasie en eetgerei nie die plase bereik waar oornag moes word nie. Boere van die omgewing het die stappers daarom telkens by die eindpunt gaan haal om op die plaas Driefontein te oornag.
Verrykende ervaring, ongeag uitdagings
“Ons het bietjie natgereën en bietjie koud gekry, maar almal was baie gasvry en behulpsaam,” sê Ezette Barnard van Bray.
“Die boere van Victoria-Wes was van onskatbare waarde om die stappers soggens uit te ry na die beginpunt en die middag weer terug na die slaapplek,” sê ds. Kobus van Tonder, een van die organiseerders.
“Ongeag moeilike stapomstandighede het die Tankwa Camino-span dit goed hanteer en gesorg dat dinge vlot verloop. Hulle kon ongelukkig nie altyd die stappers ondersteun met water en die nodige toiletgeriewe elke vyf kilometer nie. Padomstandighede het dit net nie toegelaat nie.”
Tog het dit gou duidelik geraak dat die staptog vir almal ’n verrykende ervaring was, ongeag die uitdagings.
Anette de Jager (76), die oudste stapper tydens die staptog, vertel dat niemand onaangeraak was nie.
“Almal is dit eens dat elkeen wat hierdie verskuilde pad agter koppies en berge gestap het, saam met uitstekende organiseerders en ’n meelewende gemeenskap, vertrek het met ’n nuwe uitkyk van die vrede-ervaring deur ons lewensvensters,” sê sy. “Gesondheid kom nie altyd deur medisyne nie. Die meeste van die tyd kom dit van vrede in die hart, siel, gemoed, en deur te lag, vriendelik te wees en liefde te leef.”
Dankbaarheid is dikwels deel van so intense ervaring; nie net vir die ervaring self en nuwe vriende wat gemaak is nie, maar ook vir almal betrokke.
Virtuele stap versterk rampfonds
Van Tonder het groot waardering vir Victoria-Wes se inwoners.
“Dankie vir jul gasvryheid en omgee waarmee julle ons ontvang het. Julle is ysters. Julle het gehelp om van die Red ‘n plaas, Red ‘n gemeenskap Camino ‘n reusesukses te maak. Ons is saam met julle dankbaar vir die groen veld en wonderlike reën,” sê hy.
Alhoewel die meeste stappers persoonlike motivering gehad het vir hul deelname aan die camino, is die doel van die insiatief om geld vir boere in te samel wanneer rampe ontstaan, om onmiddellike humanitêre hulp beskikbaar te stel, pastorale hulp in die vorm van opgeleide beraders daar te stel, asook die voorsiening van pastorale begeleiding in die gemeenskap om hul veerkragtigheid te herwin.
Volgens Van Tonder het die balans op 15 April die merk van R477 553-73 bereik. Op daardie stadium was nog geld uitstaande.
Dit is ’n projek van die NG kerk Sinode in die Noord-Kaapland en word in noue samewerking met die Agri Noord-Kaap Foundation en Tankwa Camino aangebied. Dit word deur die Caritas-gemeenskapfokus administreer.
Die organiseerders moedig kerke, skole en tehuise vir bejaardes aan om ‘n virtuele stap te reël en só by te dra tot die geldinsameling. ’n Spertyd is nie hieraan gekoppel nie.
Vir meer inligting hieroor, besoek rednplaas.org.za/virtuele stap/ en ook rednplaas.org.za; of tankwacamino.com/caritas-red-n-plaas-camino; asook Red ’n plaas Red ’n gemeenskap op Facebook.


