Op dieselfde perseel waar “en zeer nette Kerktent” in Kimberley opgerig is, vier ’n gemeente “wat steierend orent gekom en uit armoede opgestaan het”, sy 150ste bestaansjaar met ’n feesnaweek.
Vir dié feesnaweek wat die NG kerk Kimberley van Vrydag (14/10) tot Sondag (16/10) aanbied, speel musiek ’n opvallende rol.
Behalwe onder meer ’n verskeidenheidskonsert deur Roelof Colyn, ’n lyndansgeselligheid met Colyn en Die Ooms en ’n optrede van die kerkkoor onder leiding van Esther Ford, word ’n teetuin en mark ook aangebied.
“Musiekaanbiedinge vorm ’n goue lyn in dié gemeente se bestaan, en gemeentelede oor dekades heen koppel musiek van hoë gehalte aan dié kerk,” vertel ds. Zach Blomerus, wie in 1981 hier as predikant bevestig is en ná sy aftrede steeds by die gemeente betrokke is.
Saam met dr. Lukas Basson, wie al 31 jaar ’n predikant by die gemeente is, ontvou dié gemeente se geskiedenis en unieke uitdagings, “wat tog nie uniek is nie en tipies van ’n middestad-gemeente”.
Dominee teken kerkplan
Hoewel die NG kerk Kimberley die tweede oudste gemeente – naas dié van Du Toitspan – in die stad is, was dit die eerste gemeente om ’n kerkgebou op te rig en ’n dominee te bevestig.
Die hoeksteen vir die permanente kerk is op 21 Februarie 1885 deur ds. J.D. Kestell gelê en is in Mei 1886 ingewy. Die plan vir die gebou is deur Kestell geteken, wie ook die preekstoel van stink- en geelhout, asook die plafon ontwerp het.
Kestell se opvolger, ds. P.J. de Vaal het ’n pyporrel in die plek van die harmonium aangeskaf.
Die gebou is in 1903 geëlektrifiseer en die kerse in die oorspronklike kandelare is met gloeilampe vervang.
Daisy Humphreys, die moeder van William Humpreys na wie die gelyknamige kunsgalery vernoem is, het die kerk se twee klokke en uurwerk geskenk. Sy het haar seun spesiaal Duitsland toe gestuur waar hy sewe klokfabrieke besoek het om “alleen die beste” te koop.
Die kerkgebou is met die jare vergroot en verleng, en het sitplek vir 950 mense.
Straal hoop uit
Op ’n stadium is die kerkterrein met kerk en pastorie byna verkoop, maar dié kooptransaksie is omgeswaai. Ondanks dit, talle uitdagings deur dekades, en uitdagings wat steeds bestaan, sê Basson dat die gemeente se geskiedenis hoop uitstraal.
“Ons kan juig,” sê hy.
Ouerwordende gemeentelede met meer as die helfte pensioentrekkers, ontvolking en die demografie van omliggende inwoners is van die uitdagings. Ook het die gemeente “honderde adresse” verloor met huise wat besighede geword het. Woonhuise is South Sircularweg, en in Angel- en Longstraat is deur besighede ingeneem.
“Die gemeente het ses wyke in Georgestraat gehad, vandag een van die bekendste besigheidstrate in Kimberley,” vertel Blomerus, wie in dié kerk gedoop is en ook hier belydenis van geloof afgelê het, en wie se ouers in die kerk getroud is.
Feestelike program aangebied
- Vrydag (14/10) om 19:00 vind ’n lyndansgeselligheid in die kerksaal met Die Ooms en Roelof Colyn plaas. Kaartjies kos R100 per persoon en sluit ’n ligte ete in.
- Saterdag (15/10) bied die Vrouediens ’n mark en teetuin aan, en om 11:00 vind ’n kranslegging by die Monument op die plein plaas. Om 18:30 vir 19:00 vind ’n verskeidenheidskonsert, want gekke & dwase… met Roelof Colyn in die kerk plaas. Deur ’n verskeidenheid musiekgenrés insluitend klassiek, populêr, jazz en kabaret vertel Colyn van die gister, vandag en môre van sy ontwikkeling as mens en musikant, en die invloed wat Kimberley en sy mense op hom gehad het. Die kaartjies kos R100 per persoon en sluit sjerrie en peuselhappies in.
- Sondag (16/10) lei Blomerus die erediens, en die kerkkoor onder leiding van Esther Ford tree op. Die begeleiers is Rozanne Botha en Colyn. Ná die erediens gee Sam Goldblatt, wat in 1960 by die aanbou van die twee vleuels betrokke was, ’n kort oorsig daaroor. ’n Muntlegging deur die katkisante vind ook plaas.
- Vir navrae, stuur ’n WhatsApp-boodskap of skakel 082-804-3303 of die kerkkantoor by 053-832-2511 of stuur e-pos na ngkkby@gmail.com


