Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) Upington se 150ste bestaansjaar is die afgelope naweek in ‘n feestelike atmosfeer gevier.
“Soos ‘n arend wat bo-oor haar kuikens sweef en hulle op die vlerke dra, só het God hierdie gemeente van VGK Upington vir 150 jaar gekoester, bewaar en gesorg.”
Só het ds. Colin Goeieman van VGK Claremont in die Wes-Kaap op Sondagoggend 12 Oktober voor ‘n vol kerk in Upington gesê.
Goeieman was die gasspreker by die geleentheid. Dié seun van Upington is later as predikant na verskeie gemeentes in die Wes-Kaap en Vrystaat beroep.
“Vir die volgende 150 jaar is daar ‘n toekoms en verwagting geskep vir geslagte van bediening, van hoop en van geloof,” het hy in sy boodskap na aanleiding van Deut. 32:1-12 gesê.

Foto: Nick Pretorius
Goeieman het die geskiedenis en die ontstaan van die moedergemeente in Upington opgesom deur tye waar die Here sy getrouheid en sy liefde vir die kerk in soms “droogtetye en moeilike omstandighede gedra en bewaar het. Soms kom skud God ons nessie soos dié van ‘n arend wat haar kuikens uit die nes skop sodat hulle kan leer hoe om te vlieg en te sweef,” het hy gesê. Dit is dan wanneer die gemeente moeilike tye in die oë staar waar hul geloof en vertroue in God getoets word.
Ds. Johan Julies, konsulent van die Rainbow-gemeente, emeritus ds. Dawid Willemse, ds. Frans Fouché van die NG kerk Upington, ds. H.F. Harper van die Rietfontein-gemeente en ds. H.C. Engelbrecht van VGK Keimoes het hul gelukwensing aan die kerk oorgedra. Hulle het hulde gebring aan hul voorgangers wat met geloof en liefde bedien het.
Koorsang van die VGK Upington-kerkkoor en die Maranatha-mannekoor van Bellville-Suid het die feestelike atmosfeer in die kerk versterk.






You must be logged in to post a comment.